Ja, mens verlang soms so huis toe as jy weg van Suid-Afrika woon…daar waar die geure van Desember as die perskes ryp word in die boord, soms as dit te veel reën dan ruik jy mampoer soos die vruggies afval en gis. Perskes is my hartsvruggie!

Hierdie is net vir fyn konfyt en kan ongelukkig nie stuk konfyt word nie omrede dit taai stukkies raak.

1 kg geblikte perskes, sonder sap geweeg
200 g wit suiker
15 ml pektien met die suiker gemeng
Sous van die geweegte produk
sap van ’n halwe suurlemoen

Puree al die bestanddele saam. Plaas in ’n kastrol en bring baie stadig tot kookpunt.

Die groot maak of breek van hierdie resep is die feit dat jy STADIG moet kook en jou kastrol moet die tipe wees wat verseker nie sal aanbrand. Dus, maak seker jy kook langer maar stadiger vir die vog om te verdamp en ’n eind temperatuur van 104C te bereik wat die perfekte set punt is vir die pektien jellie.

Indien jy verkies om in die mikrogolf te kook kan jy ook dit so doen. Vir die eerste 5 min, stop, roer en meng elke minuut. Daarna as die mengsel kook, kook dan vir nog 5 minute. Stop by 2 minute en meet die temperatuur van die konfyt. Sodra jy 104C bereik bottel dadelik in warm gesteriliseerde flesse.

Bron: www.annelienpienaar.co.za deur Annelien Pienaar 2001
Hoeveelheid: 2 x 375 ml bottels ongeveer