Karamel Toffie Piesang konfyt – Die perfekte troue tussen Piesang en Karamel, ‘n Banoffee konfyt op sy beste!
Op soek na ’n unieke konfyt resep wat jou ontbyt, nagereg of teetyd iets besonders kan maak? Hierdie Karamel Toffie Piesang konfyt kombineer die ryk, souterige, botteragtige smaak van karamel met die natuurlike soetheid van ryp piesangs – perfek vir roosterbrood, beskuitjies, jogurt of selfs roomys!
Met net ’n paar eenvoudige bestanddele en ’n mikrogolfoond, kan jy jou eie tuisgemaakte Karamel Toffie Piesang konfyt binne minute maak. Hierdie resep is nie net maklik nie, maar ook ‘n wonderlike manier om oorryp piesangs te benut. Kom ontdek hoekom hierdie konfyt ’n gunsteling is onder soettande!
Bestanddele vir Karamel Toffie Piesang konfyt
- 400 g (2 k) wit suiker
- 125 ml (1/2 k) water
- 30 ml (2 e) botter
- 750 ml (5 medium ryp, ongeveer) piesangs, in blokkies gesny
- ½ teelepel sout
- 30 ml (2 e) suurlemoensoap
- 5 ml (1 t) karamel geursel of vanielje
Mikrogolf Metode vir Karamel Toffie Piesang konfyt
- Meng die suiker en water in ’n groot (2-liter) mikrogolf bestande Pyrex-bak. Roer liggies om die suiker en water te meng.
- Bedek die bak styf met kleefplastiek en prik 6–8 gaatjies daarin sodat stoom kan ontsnap met ‘n tande stokkie NIE ‘n mes!
- Plaas die bak in die mikrogolf en kook op hoë krag vir 10 minute.
- Terwyl die suikerstroop kook, sny die piesangs fyn en plaas die piesangs in ‘n 3 liter kastrol.
- Ná 10 minute sal die suikerstroop begin verkleur na ‘n karamel kleur voeg die botter by. Gaan voort om dit vir 2 minute op ’n slag te kook totdat dit ’n mooi goudbruin kleur kry. Hou dit fyn dop in die laaste 5 minute – kook tyd hang af van jou mikrogolf. (In my mikrogolf neem dit sowat 14–15 minute.)
- Wanneer die stroop goudbruin is, haal dit versigtig uit die mikrogolf met oond handskoene – dit is baie warm! Hou die bak weg van jou gesig af, trek die plastiek stadig terug en gooi die warm stroop dadelik in die pot by die piesangs.
- Kook die piesang mengsel op medium hitte totdat dit begin borrel. Verlaag dan die hitte tot ’n sagte prut en kook totdat die konfyt verdik en die piesangs begin deurskynend raak – gewoonlik sowat 15–20 minute.
- Voeg die sout by en verwyder van die hitte. Roer die lemmetjiesap en vanielje in. Laat dit effens afkoel en skep dan in skoon glas flesse.
- Bedien met warm beskuitjies, roosterbrood, jogurt of roomys.
Stoof metode vir Karamel Toffie Piesang konfyt
- Plaas suiker en water in 3 liter kastrol. Skakel plaat aan op matige hitte. MOENIE roer NIE. Laat die suiker en water oor matige hitte dan kook totdat ‘n ligte bruin stroop vorm. Dit neem ongeveer 10 minute. Wees asb hier geduldig!
- Voeg dan daarby die botter en laat dit op kook.
- Voeg dan die gesnyde piesangs by en kook vir 15-20 minute totdat die piesangs glansend word weereens matige hitte.
- Bottel in warm gesteriliseerde flesse.
Wenke
- Gebruik ryp piesangs wat begin bruin spikkels wys, maar nie pap of swart is nie. Groen of halfryp piesangs werk nie goed in hierdie resep nie.
- Gebruik ’n Pyrex-bak vir die mikrogolf proses, aangesien dit hittebestand is. Moenie ’n gewone glasbak gebruik nie – dit kan bars.
- Gebruik ’n kwaliteit kleef plastiek wat gemerk is as mikrogolf veilig.
- Marshmellow twist: voeg 1 k se gesnipperde malvalekkers by die mengsel sodra dit klaar gekook het!
- Raklewe: Raklewe is 6 maande tot 1 jaar. Na opening, hou in yskas 6 weke.
- Hoeveelheid: 3 koppies (750 ml)
Bron: www.annelienpienaar.co.za deur Annelien Pienaar 2000