Kondensmelk Boere Beskuit
As ek aan hierdie beskuit dink, dan dink ek aan die kere wat ons gaan kamp het. My ma se rooi ketel wat sy net vir daardie doel gebruik het, het dan sy verskyning gemaak met die bypassende blik bekers. Dan het sy die ekstra lang beskuite uitgehaal en ek het my beskuit dan so met die oog gemeet en opgedeel in kwarte. Ek het stukkie vir stukkie in die warm koffie gedoop en elke nat kolletjie af geknibbel voordat ek dit weer ingedruk het. Of…Ek dink aan die nat beskuit as dit uit die oond gekom het, dan het mammie vir ons elkeen ‘n glasie melk gegee met so ‘n stukkie natbeskuit, diep in die glasie gedruk!
Ja, veral in die winter maande as jou hande so koud was, was dit ekstra lekker om die beker te vertroeltel in die holte van my bakhande. So met die bakhand gevou om die beker, is elke bolletjie beskuit sorgvuldig deur my mammie se twee hande afgeweeg in perfekte porsies. Daardie twee hande wat stukkende knië en gebreekte harte kon heel maak…ja, mens mis die beskuit en die liefde en die heel meeste, die deernis en passie waarmee alles gedoen was!
4 Wenke vir Volhoubare Kondensmelk Boere Beskuit
- Die resep kan met sukses halveer word indien dit vir jou na te veel beskuit lyk.
- Ek vries ook die nat beskuit en droog soos nodig vir ongeveer 6 maande.
- Om jou gaste se voete onder hulle uit te slaan, neem die bevrore brode laat dit vir ‘n uur ontdooi. Spuit die brood nat met water. Plaas dan die brood in koue oond. Skakel die oond aan en bak teen 180 C vir ongeveer 10 minute. Almal sal dink jy het die hele dag en nag gewerk aan hierdie heerlike beskuit.
- Hierdie tegniek werk ook vir ALLE gebak met gis, beskuit en brood!
Bestanddele vir Kondensmelk Boere Beskuit
- 250 g Rama of Stork bake (botter is my eerste keuse)
- 250 ml Melk – lou
- 1 Blikkie kondensmelk
- 2.5k g Koekmeel
- 20 ml Sout
- 750 g – 900 g Suiker (kan suiker halveer)
- 2 Sakkies kitsgis
- 1 liter Water – lou
- 4 e Anys (opsioneel)
Metode vir Kondensmelk Boere Beskuit
- Smelt die kondensmelk, margarien en melk saam. Laat goed afkoel.
- Sif die koekmeel, sout, suiker, gis saam.
- Meng die melk mengsel, anys (indien verkies) en die koekmeel mengsel saam asook al die water. Knie die deeg vir 10 minute tot glad en elasties.
- Laat dan die deeg tot dubbel die volume rys. Kan enige iets van 30 – 60 minute neem afhangende wat die kamer temperatuur is asook die seisoen van die jaar. Bedek die deeg met plastiek wat vooraf gesmeer is met olie. Gedurende die hele rys proses, as die deeg nie vinnig genoeg rys nie, maad dit warm toe en gee dit kans, dit sal rys…moenie kommer. Ek het al met suurdeeg wat nie meer goed was tot 6 ure gesukkel…maar beskuit het ons geëet.
- Knie die deeg af en vorm dan 50 g-80 g bolletjies. Pak die bolletjies in rytjies in gesmeerde broodpanne. Moenie meer as 3 in ‘n rytjie sit nie. As die bolletjies te styf teen mekaar ingeprop is, gaan dit sommiges na bo druk en nadat dit gebak is, sal die onderkant holtes hê. Ek stut gewoonlik een lang kant van die pan met ‘n vuurhoutjie dosie of paplepel sodat die bolletjies gemaklik kan in plek gly.
- Dan, baie, baie belangrik om te onthou: Die pan moet halfpad tot bo gevul wees want dit gaan nog verder tot so ‘n vinger van bo rys en dan nog drie vingers verder rys as dit bak. As jy lang beskuite wil hê soos ouma sin, is dit die beginsel om toe te pas.
- Laat die deeg in die panne weer tot dubbel die vulume rys vir ongeveer 30 – 60 minute. Bak dan in 190 ˚ C oond vir 30 – 45 minute afhangende van die grootte van die panne.
- Keer dadelik uit en laat afkoel. Breek die bolletjies versigtig los met ‘n vurk wat jy in die voutjies insteek en droog by 100 ˚ C vir 3 – 5 ure.
HOEVEELHEID: 90 stukke.
Bron: www.annelienpienaar.co.za deur Annelien Pienaar 1996