Een iets wat my dood is, is Bros gebraaide skyfies in enige vorm: met skil, sonder skil, wiggies, vingers dun en of dik. In hierdie resep het ek so bietjie soet en suur kombineer maar jy kan self hier jou eie smaak profiel skep en dalk die suur en soet uit los en ook speel met gure soos om bietjie Portugese speserye of Suurlemoen en vinkel sout by te voeg. Punt is, aartappels roep vir lekker speserye en sout!

Met die byvoeging van rysmeel (wit of bruin) voorkom dit dat die mengsel aan mekaar vasklou en klonte maak.

Wenk: hierdie sout is ook heerlik oor uieringe, gekrummelde sampioene. Loer gerus in die Boerekos met ‘n TWist kookboek na die Vis en Uie ringe resep of in Vleis die omvattende gids: Ketel bros gebraaide Hoenderstukke…in kort KFC!

4 e uie poeier
4 e knoffel poeier
4 e gerookte paprika
1 e pietersielie, gedroog
1 e oreganum, gedroog
1 e basil, gedroog
1 t swart peper, fyn
1 t rooi peper (cayen) poeier
½ t wynsteensuur of citric acid
4 t fyn sout
1 t strooisuiker (opsioneel)
1 t rysmeel

Plaas al die bestanddele behalwe die sout in ‘n voedsel verwerker of spesery meule en maal tot fyn. Voeg die sout by en meng goed deur.

Skep oor in ‘n lugdigte houer en stoor in donker kas vir maande.

Bron: www.annelienpienaar.co.za deur Annelien Pienaar 2024
Hoeveelheid: ongeveer 250 ml