Bros Gebakte Aartappels

Bros Gebakte Aartappels

Hierdie is my vinnige aartappel gereg. Op ‘n dag kom pappie mos weer met paar sakke groente tuis…maar die keer is die 4 sakke aartappels. Ek deel onder die werkers uit en daar bly nog twee sakke oor. Staan die storie so en kyk en besluit dit is tyd vir planne maak. Die aartappels is mooi en wil niks laat verlore gaan.

Ek het toe al die aartappels gaar gekook met skil en al in sterk sout water. Dadelik in koue water gedompel sodat die skilletjie maklik afhaal. Ek het al die aartappels in halwes en sommiges in kwarte gesny en toe tussen lae waspapier gepak in ‘n lugdigte houer en gevries. Soos ek aartappels nodig gekry het, het ek uitgehaal en ontdooi. Die aartappels is vir amper lekkerder as die vars skyfies wat mens bak.

‘n Ander opsie wat ek gereeld doen: kook aartappels en hou in die yskas vir ‘n week en gebruik soos nodig. Vir my gesin van 5 wat eet soos 10 is 2kg aartappels genoeg vir ‘n week.

Vir hierdie resep het jy nodig enige hoeveelheid aartappels. Krap elke aartappel se ruggie met ‘n vurk. Bedruip goed met olie en sprinkel met gegeurde sout van jou keuse. Ek gebruik die Groente sout in die Boerekos met ‘n Twist resepteboek p.211 wat heerlike uie en knoffel in het. Bak by 200 C vir ongeveer 30-45 minute afhangend van hoe bros jy die aartappel wil hê.

Hierdie is ‘n baie beter alternatief as diepvet gebraaide ongesonde slap chips.

Sprinkel dan as die aartappels gaar is met growwe peper, asyn en ekstra sout indien verkies.

Getuigskrif van ‘n BKT lid op FB: Michelle Polley: “nnelien, ek moet bieg ~ ek het nou die dag ‘n 7 kg sak aartappels gekry en besluit toe om dit te kook en vries soos jy so mooi verduidelik het. Maar báie skepties, want, uit ondervinding weet ek, enige aartappels gevries in ‘ n bredie, vries niks lekker nie en proe ook niks lekker nie. So haal ek toe vanoggend my pak Zip-lock aartappels uit die vrieskas om te ontvries. Vanmiddag kyk ek die spul so en besluit, nee, dit gaan glád nie werk nie – die aartappels is dan soos sponsies en dit voel of daar nog baie water in is. Kosmaak tyd arriveer, ek sny die aartappels vol kepies, pak hulle netjies in ‘n bak, verf bietjie olie oor, sprinkel jou geelsout en toe oond toe (sommer op die onderste rak, want op die boonste rak is jou “Dille en suurlemoen gemarineerde Hoender”) Lang storie kort – ek het in my hele lewe nog nooit sulke goue, krakerige en perfekte gebraaide aartappels gesien/gemaak nie!!  Ek sluk elke twyfel-gedagte wat deur my kop gegaan het! Ek moes mos gewéét het élke liewe Annelien-resep kán nie flop nie en is oor en oor getoets. Daar het nie 1 aartappel oorgebly nie en vingers is afgelek nadat die heerlike hoenderdis ook verorber is nie! Jy is ‘n hero in ons huis Annelien Pienaar! En my gesin is mal daaroor om die proefkonyne te wees soos ek al jou wonderlike resepte uittoets. Kan nie wag vir daai resepteboek nie..

Hoeveelheid: Soveel as wat jy wil.

Print Friendly, PDF & Email
2017-09-20T16:44:12+00:00 0 Comments

Leave A Comment