Almal van ons wens dat wanneer ons vir ‘n naweek wegbreek dat daar GEEN ure in die kombuis spandeer moet word en jy wil net rus en eet… Soms kan ons die lewe vir onsself makliker maak en wel kos vooraf berei om saam te neem en hierdie gebottelde tamatie slaai werk perfek vir hierdie doel.

Voedsel preservering is ‘n wonderlike Wetenskap waar elemente met mekaar kombineer word. Die hoof bestanddele vir preservering is Suiker, Sout en Suur. Die tegnieke wat gebruik word om te preserveer kan varieer tussen kook, druk kook en stoom wand ketel druk kokers, water bad metodes, droging en fermentasie. Vandag gee ek aandag aan gebottelde slaaie en graag wil ek so ‘n klein lessie in werk om jou te leer van die risiko verbonde aan preservering en HOEKOM jy nie bestanddele sommer net so kan verander omdat jy een of die ander nie het. Die drie hoof bestanddele wat ek genoem het mag onder geen omstandighede aan getorring word omrede my resepte en ook ander wat resepte ontwikkel ‘n formule het wat gebruik word om kundig veilige besluite te neem. Dus, kontak die bron van die resep en maak seker of jy wel kan verander aan die bestanddele.

Die risiko’s is kruis kontaminasie, dit beteken jy werk nie skoon in die voorbereiding van die produk. Dus moet jy skoon maak met seep en water voordat jy begin. Groente goed afspoel. Bottels moet steriliseer word deur dit eers met seep en water te was. Daarna in die oond teen 120 C vir 20 min om patogene mikrobes soos bakterie spore soos Salmonella, Clostridium botulinum te dood. Hierdie praktyke sal verseker dat jou produk nie sal gis of bederf.

Ek kry ook baie die vraag of suiker met kunsmatige suiker vervang kan word. Die antwoord is egter nee omrede hierdie suiker alkohole GEEN preserverings aksie het. Dus, wees asb versigtig. Jy kan wel dit berei met kunsmatige suiker maar dan moet jy die produk vries of deur ‘n canner sisteem onder baie hoë druk verwerk of vir paar dae in die yskas hou.

Jy kan die groente deel met ‘n verskeidenheid ander groente vervang. Styselagtige groente soos aartappel, pampoen, soetpatat, blaarslaai moet vermy word… Brokkoli, ertjies, spinasie, radyse, komkommer, soetmielies en vele meer kan wel hier kombineer word.

5 kg tamaties, in skywe gesny van ongeveer 5 mm dik
1 kg uie van keuse, gesny na gelang van jou keuse
1 kg wortels, geskil en grof gerasper of julienne repies
1 kg soetrissies, gesny na gelang van keuse asook kleur van keuse, oorweeg ook paprika
3 e knoffel fyn gedruk
2 e sout
1/2 k asyn
suiker tot ‘n maksimum van ¼ koppie mate (suiker mag ook uitgelos word)
1 e tiemie of oreganum of tarragon gedroog
olie om te vul vir later, ek verkies pekan of olyfolie

Meng al die bestanddele met mekaar en rus vir 30 minute.

Steriliseer in hierdie tyd die bottels en laat afkoel asook die deksels. Bring ‘n kastrol met water tot kookpunt, die kastrol moet ongeveer half vol gevul word want die bottels gaan in hierdie kastrol gekook word. Kies ‘n kastrol wat die bottels in kan pas sodat die bottels styf kan pas teen mekaar en nie rond hop soos dit kook nie asb. Jy kan eerder twee of drie kastrolle gebruik. Sou daar spasies oop wees, sit ‘n leë water gevulde bottel in om te keer dat die ander bottels om val. Verder sit ‘n lappie onder in die kastrol net voordat die gevulde bottels in die kastrol geplaas word.

Pak die slaai in die bottels en druk baie goed vas. Moet nooit in preservering die bottels tot heel bo vul, maar stop by die eerste deel waar die skroef ring begin. Onthou ook dat jy met geskikte bottels moet werk wat verhit kan word. Consol is altyd ‘n goeie keuse.

Giet dan 2 e olie bo op elke gevulde bottel. Daarna skroef die bottels toe, en hier is die vang plekkie, draai met een haal die bottel toe, maar nie so toe soos mens sou draai as jy iets styf toe moet maak. Die toedraai moet net mooi haak dan is dit genoeg.

Plaas dan die gevulde bottels in die kokende water op die lappie, onthou om ‘n pot met ekstra kokende water eenkant te hou om die bottels te bedek. Die bottels moet ten volle bedek word met water, daar moet 5 cm spasie tussen water en deksel wees. Vul te alle tyd water aan soos die proses verloop.

Kook die potte met deksel op vir ongeveer 90 minute en dan baie belangrik die water moet stadig prut nie borrelend kook nie. Tydens hierdie proses sal die lug van binne die bottels uit gestoot word. Sou die water vlak daal het jy ‘n probleem as jy nie met WARM kook water aanvul. Die water se temperatuur moet ook konstant wees as dit by die pot gevoeg word want die bottels as dit sou afkoel, sal van die koue water n vakuum suig en van die water dus intrek en dan bederf jy al jou werk. So warm water by warm kokende potte asb.

Sodra die tyd verby is, skakel die plate af, verwyder die kastrol van die hitte bron en laat vir 5 minute staan. Lig die bottels dan uit die potte, draai die deksels styf toe en plaas op ‘n handdoekie want die bottels mag bars op ‘n baie koue oppervlak. Die produk is perfek geseel as die deksel in duik.

Die raklewe van hierdie produk is 12 maande. AS die produk eers oop gemaak is stoor in die yskas en hou ongeveer 14 dae.

Hoeveelheid: 10 liter produk Nota: die resep kan met gemak halveer word.
Bron: www.annelienpienaar.co.za deur Annelien Pienaar vir Pretoria FM se Buitelewe program. 2024

Hierdie resep mag net per skakel gedeel word asb. Vir ons as skrywers is dit belangrik dat die outeur van die resep se kopiereg beskerm word en die leser asb terug na die outeur geneem word. Dankie dat jy hierdie resep beproef en kom loer asb in by die Boerekos met ‘n Twist kookgroep op FB waar ek verder help met tegniese raad en help waar ek kan.

Loer ook na my klasse oor hierdie onderwerp op my webtuiste en lees ook meer daaroor in Boerekos met ‘n Twist die kookboek en Vleis die omvattende gids by toonaangewende boekwinkels en ook aanlyn en oorsee beskikbaar. Geen eformaat, net harde kopie.

Groete

Annelien Pienaar