
Van al die vrugte wat mens kan preserveer is koejawels seker die maklikste en minste werk. Ek kan so goed onthou hoe ons die koejawel bome as kinders geklim het, nie ‘n baie hoë boom nie, maar meer plat en wye take. Digte blare met baie vrugte. Natuurlik is kind mos ook soos ‘n boerbok, het nie ore. Te veel koejawels en maagpyn is soos kettie en klip…loop hand aan hand!
Vir elke 1 kg vrug het jy nodig 1 deel suiker tot 2 dele water. (Vars vrugte is belangrik, ou vrugte sal pap kook en voedsel bederf tree vinnig in.)
Neem die suiker en water en plaas in ‘n kastrol. Bring stadig tot kookpunt en maak seker voordat die stroop begin kook, dat die suiker gesmelt het. Sodra die stroop kook. Skakel af en hou eenkant.
Maak seker dat die kastrol wat jy gaan gebruik vir die waterbad metode wat gedoen word, genoeg bottels kan akkommodeer sodat dit styf pas en nie sal omval of rond hop en breek. Bottels moet vooraf gewas en dan gesteriliseer word deur dit in ‘n oond teen 120 C vir 20 min te verhit en dan so te laat afkoel. Plaas n draad rakkie onder in die kastrol of ‘n lappie soos ‘n vadoek of ‘n waslappie, hierdie voorkom dat die bottels bars.
Skil die vrugte en spoel vinnig af en pak dan styf in die flesse, gee 1 cm spasie sodat die bottel se nek nie oorvul word en dele van die vrug moontlik nie onder sap sal wees. Maak dus seker dat waar die bottel se skroef rand begin, geen vrug oor daardie lyn gaan. Dit geld vir alle ingelegde vrugte. Vul dan die inhoud aan met die suiker stroop tot oorlopens vol. Ek sit gewoonlik die bottels in ‘n diep bakkie vir hierdie werk.
Skroef die deksels vas maar NIE te styf, sodra jy voel die deksel “vat” stop. As jy die deksel te styf draai sal die produk water suig en so neem die produk bakterie in en giste, en so begin die proses van voedsel bederf.
Plaas die gevulde flessies in die kastrol op die lappie of die draad rakkie. Vul die kastrol op met water net tot so 2-3 vingers bo die deksels. Bring tot kookpunt en sodra die water liggies begin kook, neem die tyd vir die produk om vir 15 minute presies te kook, as jy te lank kook, mag die vrug pap raak.
Sodra die tyd verby is, plaas ‘n handdoek op die toonbank. Lig die flesse uit en draai die proppe baie vinnig dig toe en los dan om op die handdoek af te koel. Die rede vir die handdoek is, dat die warm flesse maklik sal bars op ‘n koue oppervlak en ook in ‘n wasbak. Wees asb versigtig.
Laat goed af koel. Hierdie produk kan vir JARE op die spensrak gelos word. AS die seel goed is, die dekseltjie word in gesuig en lyk ingeduik, het jy suksesvol ingemaak!
Bron: www.annelienpienaar.co.za deur Annelien Pienaar 2003
Hoeveelheid: soveel jy wil! Stroop wat oorbly kan vir maande gestoor word in die yskas of gevries word. Maar kan ook vir koek versiering se crumb coat gebruik word en of ook om koeke te bevogtig.