Hollandse Stroop Wafels en die Geskiedenis saam met die Bezuidenhout dogters…

Iets uit my kindertyd en my gunsteling happie…Hollandse stroop wafels gedoop in ‘n koppie tee met melk sonder suiker…dan kom die karamel en kaneel smaak 100% navore. Daar het hope van hierdie ongelooflike lekker koekies in die drie Bezuidenhout dogtertjies se magies verdwyn. Ek sien geoefende hande wat hierdie heerlike sirkels uit die kniepertjies iyzer lig, vinnig die kante afdruk met ‘n ronde drukker en dan baie blitsig op die agterkant van ‘n ronde bord sonder ‘n randjie halveer en lepels vol goue taai toffie op die warm koekie gesmeer en dan weer netjies toe geplak. Soos die jare aan gegaan het, het ek self begin bak. Die bord sonder die randjie het my ontwyk en ek het maar ‘n koek versier draaitafel aangeskaf om die snywerk makliker te maak. Maar voor dit, het ek ‘n ronde koek “poliester dummy” gebruik om die koekie op te plaas en dan met ‘n lang lem mes deur te sny. Elke geval, jy sal wel ‘n maklike manier vind om die koekie te halveer. Geniet hierdie ongelooflike lekker resep uit my ma se pen…en meer nog die herinneringe met jou geliefdes as jul die lekkerte deel.

Wenk: Hierdie resep kan halveer word. Maar vir die wat vasbyt….die koekies vries soos ‘n droom tot en met 12 maande!

Deeg vir Hollandse Stroop Wafels

  • 20 g kits gis
  • 1 t wit suiker
  • 1 k lou water

Meng saam en laat skuim.

  • 1 ½ kg koekmeel
  • 15 ml kaneel
  • 1 ½ t sout
  • 500 g botter gesmelt (Mooi rivier of Kerry gold)
  • 250 g wit suiker
  • 5 e goue stroop (moet Lyles wees)
  • 2 eiers geklits
  • 400 ml lou warm melk

Metode vir die Deeg vir Hollandse Stroop Wafels

  • Meng al die nat bestanddele saam, meng al die droë bestanddele saam en maak holte in die meel.
  • Voeg dan die gis water en nat bestanddele in die holte van die meel en begin om die meel in die vog in te werk.
  • Neem jou tyd en knie die mengsel tot glad en elasties vir so 5 min per hand. Rus die deeg vir 10 minute en knie weer vir 5 minute tot glad.
  • Verdeel die deeg dan in 15 g balletjies. Ongeveer 220 wat jy sal uit kry.
  • Rol die balletjies perfek rond, hou bedek met plastiek. Die bolletjies moet lekker pof wees voordat jy begin bak.
  • Voor verhit die wafel pan, plaas ‘n bolletjie presies in die middel van die wafel pannetjies. Druk die deksel dan liggies toe sodat die deeg mooi versprei.
  • Bak die koekies vir 5-7 minute tot lig bruin en droog.

Stroop vir Hollandse Stroop Wafels

  • 2 x 907 g blikke Lyles waarvan jy stroop vir die deeg uit geskep het. Die res tel dus vir die 2de blik.
  • 1 kg strooisuiker
  • 6 teelepels kaneel
  • 500 g botter
  • 2 knypies sout

Stroop Metode vir Hollandse Stroop Wafels

  • Plaas al die bestanddele in ‘n kastrol en smelt saam.  MOENIE kook nie, net smelt.
  • Die suiker mag nog sigbaar wees, moenie kommer. Hou die stroop warm in ‘n dubbel kastrol met warm water om te voorkom dat die stroop taai en dik word.
  • Niks so aaklig as om die lepel saam met die pot op te tel…of beter nog..haha die koekie breek in stukke soos jy probeer smeer.
  • Hierdie is die moeilikste deel as jy nie die stroop warm hou. Jy raak dan agter soos die koekies bak. Alles moet in sync wees!

Konstruksie Hollandse Stroop Wafels

  • Sodra die eerste koekie uit die wafel maker kom, neem ‘n koekie drukker wat groot genoeg is om ‘n mooi vol sirkel uit te druk om die rantjies netjies te maak. Sodra die afdruk gemaak is, verwyder die ekstra stukkies en nou het jy ‘n mooi sirkel.
  • Halveer sirkel: Ek vind dat my koek draai tafel lekker werk om die wafels te halveer en oop te sny. Daarom is dit ook makliker om die halvering te doen want die kante van die koekie is klaar afgesny deur die afdruk van die ronde koekie drukker.
  • Druk die koekie vas met ʼn vadoekie en met ‘n lang lem mes sny ek die wafel versigtig oop. Vul met stroop vulsel met ongeveer 1 e – 2e per koekie en druk dan die ander helfte weer stewig vas deur sommer ‘n plat spaan daarop te druk om die stroop te laat versprei. Draai die koek versier tafel sodat jy eweredig die stroop deur die kante kan laat versprei.
  • Die ritme gaan dan wees, een bolletjie bak, koekie uit en word gesny en vul…en herhaal totdat almal klaar is.
  • Geniet die reis en kom spog!

Bron: www.annelienpienaar.co.za deur Annelien Pienaar 1998
Hoeveelheid: 200-230 gevulde koekies