‘n Heerlike alles in een sous wat ook verdun kan word met room om daarvan ‘n slaaisous te maak. Ons geniet hierdie mousse as ‘n doopsous vir groente, koekies en dan ook heerlik saam met pasta en so bietjie pesto by. Dink aan heerlike vars warm brood met so ‘n smeersel wat intrek in die warm broodjie…ja, dit is n heerlike bederf.
2 Top tip wenke wat ek tov hierdie sous wil deel vandag is:
- Oormaat avo’s kan fyn gedruk word met bietjie suurlemoensap en dan in ziplock sakkies geseel word deur al die lug uit te vryf en dit soos velletjies op mekaar te vries. So sal die avo nie verkleur en maande lank goed vries. Ander opsie is natuurlik vakuum verpak en dan vries nadat dit fyn gemaak is. Suurlemoensap preserveer die kleur deur oksidasie tee te werk.
- Hierdie mousse kan ook so bevries word.
Bestanddele vir Avokadopeer Mousse
- 1 ryp avokadopeer, geskil en ontpit
- 15 ml (1e) suurlemoensap
- mespuntjie vars fyn knoffel
- 5 ml (1 t) balsamiese asyn
- 3 e tahini paste of 3 e roomkaas (ek het beide gedoen, maar ek weet dat daar allergiee is, so net roomkaas sal ook werk)
- 1 eiergeel of 3 e chickpea water (aquafaba)
- 5 e neute olie soos pekan, macadamia, avo, olyf
- 5 ml (1 t) gladde dijon mosterd
- sout en wit peper na smaak
Metode vir Avokadopeer Mousse
- Plaas al die bestanddele in ‘n staafmenger bakkie en puree tot een gladde massa.
- Skep in ‘n opdien bakkie en druk dan ‘n stukkie kleefplastiek direk op die mousse om verkleuring te voorkom.
- Ek hou daarvan om ekstra olyf olie oor die oppervlak te giet dan het ek nie nodig om die plastiek te doen. Jou keuse. Hou vir 24 uur of vries oormaat.
Geniet en groete vanaf die plaas!
Hierdie resep werk ook heerlik om as deel van ‘n Kaasbord of Charcuterie bord te bedien saam met ‘n Feta Mousse!
Bron: www.annelienpienaar.co.za deur Annelien Pienaar
Hoeveelheid: 1 koppie se mate van 250 ml