Een van die wonderlikste geregte vir my persoonlik is die perfekte geposjeerde eier. Baie van die mense oor my pad se kommentare is dat dit baie moeilik is om te maak. Helaas, nie. So met die jare langsameraan, het ek kort paaie geleer om hierdie heerlike eiertjie te maak. Die perfekte geposjeerde eier moet ‘n sagte lopende kern hê maar glad nie drillerige en deursigtige eierwit. Die perfekte eier moet boepens rond wees en glad. Geen stringe of los eier dele. Lees meer oor varsheid van eiers by Eier omskakelings.

 

Hier volg my les oor die kopkrapper vir die perfekte geposjeerde eier.

Opsie 1: Klassieke metode vir Poached egg / Geposjeerde eier met Hollandaise sous

  • Toerusting is krities en vir my begin dit by die regte grootte kastrol met ‘n handvatsel, bodem ongeveer 15 cm. Ek vind dat hoe kleiner en dieper die kastrol hoe beter die warrel in die water as die water geroer word en die warrel hou ook langer en help die eier om vinniger en ronder te set. Dit is ook makliker om met ‘n kastrol met ‘n lang steel te werk sodoende nie maklik te brand as die kastrol gekantel word om die eier uit te haal en te dreineer.
  • Neem 1/2 k wit asyn en 2 k water en meng met mekaar. Breek dan een eier oop in die water en laat dit dan rus in die water vir 15 minute. Die asyn sal die eierwit laat koaguleer en so help dit ook om die meer perfekte ronde eier te kry. MAAR ek vra tog om met VARS eiers te werk en lees die volgende eier artikel om te bepaal of die eier vars is. As die eier begin dryf en of die kante na bo staan, is die eier nie vars genoeg. Dit sal dan ‘n minder netjiese eier tot gevolg he.
  • Bring ‘n halwe kastrolletjie water tot kookpunt en voeg weer 4 e asyn by. Skep die eier uit na 5 minute met ‘n sop lepel. Skep asb versigtig en geen probleem as die water saam kom! Neem dan ‘n lepel en roer die water sodat dit ‘n kolk maak of gebruik ‘n staafmenger en blitz ‘n vortex. Daarna skep die eier in die kolkende water. Die water moet vir die eerste minuut of wat nog draai. Daarna neem die tyd vir 4-5 minute vir die eier. Sodra die eier gestol is en die geel nog sag, skep weer uit met sop lepel en dompel in yswater om kook te stop en haal vinnig weer uit.
  • Bedien dadelik met Hollandaise sous. 


    Opsie 2: Alternatiewe gaarmaak metode vir Poached egg / Geposjeerde eier met Hollandaise soussonder die vooraf week in asyn water:

  • Doen die toets vir die varsheid van die eier. Die punte van die eier moet plat le. As jy n vars eier sou oop breek sal jy duidelik merk dat die wit ‘n ringetjie vorm en nie plat loop.
  • Breek die eier in ‘n klein bakkie oop, neem ‘n tee siffie en giet die eier versigtig daarin. Die rede hiervoor is om die waterige deel van die eierwit te skei, want as jy dit nie doen nie, vorm die loperige deel van die eierwit lang stringe. ‘n Perfekte geposjeerde eier sal satyn blink en glad vertoon. Onthou as die eier dus oud is gaan die posjeer eier kleiner uit kom.
  •  Bring die halwe kastrolletjie water, waarby 1 e asyn gevoeg is tot kookpunt en draai dan die hitte af tot ‘n temperatuur waar jy kan sien die water maak nie borrel maar is tog stadig maar seker besig om te kook. As jy dit nie doen nie, gaan die eier opbreek.
  • Roer die water sodat dit duidelik n kolk maak en giet dadelik die eier vanaf die siffie direk in die water. Moenie die siffie in die water in druk die eier sal stol aan die draaidjies. Anders giet die eier net terug in ‘n skoon bakkie of maatkoppie dan direk in kolkende water. Sodra gereed na 4 minute, verwyder met gaatjies lepel en sny al die los dele af. Bedien.

Opsie 3: Sop lepel en olyf olie metode vir Poached egg / Geposjeerde eier met Hollandaise sous

  • 1. Water moet liggies kook, nie borrels, smeer ‘n sop lepel met olie, breek die eier daarin en plaas dan die lepel met die eier effe in die water sodat die lepel se rand net net raak in die water.
  • Die hitte van die water sal dan die eierwit begin seel, hou so vir 1 minuut. Laat die lepel dan sak in die water baie stadig en hou so vir 3 minute.
  • Lig dan die lepel uit, keer die eier uit op ‘n dreinerings lepel en laat goed afdrup voordat die eier op ‘n bord geplaas word.
  • Sny al die los eier dele af en maak die eier netjies.

Stoor van grootmaat posjeer eiers:

  • Ja jy kan die posjeer eiers vooraf maak en dan in water in die yskas bewaar en later gou in kokende water dompel vir 30 sekondes en dan direk bedien. Ek waarsku egter dat die posjeer tyd dan korter moet wees. Hou die eier dop. Sodra dit begin wit raak en stol so by 2 min tot 3 min haal uit en koel af in yswater.
  • Eiers kan dan in yskas in water vir 7 dae gestoor word.

Bron: www.annelienpienaar.co.za deur Annelien Pienaar Hospitality studies Level 6

Hoeveelheid: soveel as wat jy wil maak…skat so 12 tov die week water.