Om self aspersies in te lê is maklik en eenvoudig. Jy het nodig bietjie water, sout en dan aspersies, ‘n diep kastrol en daar gaan jy.

Hierdie resep gebruik 500ml glas flessies met skroef ringe. Die resep kan verdubbel word.

Vir elke 500 ml fles benodig jy goeie kwaliteit skoon water en dan ½ t sout per fles, 1t asyn en dan kookwater om mee op te vul.

1. Spoel die aspersies goed in diep water om fyn sand te verwyder.
2. Plaas glas bottels in ‘n kastrol en vul met kookwater om die bottels en deksels te bedek en bring tot kookpunt. Verhit ook ‘n ander kastrol met water tot kookpunt want hierdie water gaan gebruik word om die flesse te vul.
3. Sny die onderste stingels korter sodat die stingels net onder die draai van die nek van die bottel in pas.
4. Blansjeer die aspersies dan soos volg: bring water tot kookpunt en sit so een handjie bondeltjie per keer in die kokende water. Kook NET vir 3 minute.
5. Verwyder die bottels uit die water en MOENIE in die binnekant van die bottels of deksels raak. Draai onderste bo op ‘n draad rakkie. Werk asb vinnig.
6. Vul elke bottel met ½ t sout, ½ t asyn, pak aspersies dig in en vul aan met kookwater totdat die punte van die aspersies net-net bedek is. MOENIE die bottel tot BO vol maak nie. Die water gaan uit kook en vog in die volgende kook metode laat in gaan en dan daal die sout vlakke wat tot gevolg het dat jou produk sal bederf.
7. Skroef die deksels op maar nie so styf dat dit die finale toe draai moet wees. Die deksels moet net-net styf wees.
8. Pak die flesse dan in ‘n kastrol met ‘n lappie binne in om te keer dat die flesse bars as dit dalk bietjie beweeg. Maak seker jy kies ‘n kastrol wat die flesse dig sal laat in pas om beweging te beperk.
9. Bedek dan die bottels met kook water tot so ‘n duimpie hoogte oor die deksels. Bring die bottels tot kookpunt. Sodra die water kook, neem die tyd.
10. Kook vir 3 ½ ure vir 500 ml flesse en 4 ½ ure vir 1 liter flesse. As die kookwater minder raak vul aan met kokende water, nooit koue water jy sal die flesse bars en ook die kookproses hinder en produk se raklewe belemmer. Onthou die water moet matig kook, nie borrelend want die flesse mag dalk beskadig.
11. Haal die flesse uit sodra die tyd om is en plaas op ‘n handdoekie onderste bo om dan af te koel. As jy dit dan omdraai sal jy merk die fles se deksel het mooi ingeduik wat ‘n goeie seel beteken en die Aspersies sal vir JARE op jou spensrak sonder verkoeling goed hou.

Bron: www.annelienpienaar.co.za deur Annelien Pienaar 2023