As ek aan warm somersdae dink en veral oor Desember dan onthou ek die groot vet ronde balle Granadilla roomys wat ons in die dorp gekoop het. My ma het ons een maal per maand bederf met so ‘n heerlike roomys as ons soet is met tog en terug op die plaas. So om drie dogtertjies te kry om stil te sit vir ‘n roomys was maklik…

Vir hierdie resep kan jy ‘n roomysmaker in span of per hand die roomys klits deur ‘n lang proses om die yskristalle klein te kry. Daarna kan jy met die slush puppy effek die roomys giet en verder vries. Sou jy die roomys net direk giet sal dit ‘n harde massa vorm. Ek onthou so goed die manier hoe ek met my tande die stukkies ysies af geskraap het. So daar was so bietjie eksperimente in die proses.

Onthou met hierdie resep om alle toerusting wat moet koud maak en koud hou…alles in die vrieskas te hou totdat dit benodig word, sodoende die proses vinniger te maak. Hierdie resep halveer en verdubbel baie goed. Moenie op die bestanddele sny nie want dit help juis met kristalvorming. Sny jy op suiker sal die roomys baie harder uit kom.

Kom ons spring aan die werk.

200 g (1 k) witsuiker
500 ml (2 k) egte suiwer lemoensap
800 ml (4 k) granadilla pulp
knippie sitroensuur (citric acid) of 1 t suurlemoensap

Wenk: granadilla pulp kan geoes en bevries word vir latere gebruik, as jy ‘n groot hoeveelheid met oeste oor het.

Plaas die suiker en lemoensap in ‘n diep kastrol. Roer die bestanddele oor matige hitte totdat die suiker opgelos het. Sodra die suiker opgelos het, bring tot kookpunt vir 10 minute.

Voeg die sitroensuur/ suurlemoensap by die warm massa asook die granadilla pulp. Roer goed deur en giet die warm inhoud in ‘n vrieskas vriendelike metaal of vuurvaste glasbak. Roer om af te koel.

Sodra die mengsel kamertemperatuur bereik verkoel in vrieskas vir ‘n uur totdat die temperatuur van die stroop tot 0 C daal.

Roomys maker: Begin die karring proses met ‘n roomys maker. Stop die proses as jy by die slush puppy fase uitkom en giet dadelik in vorms.  OF

Per hand: breek ys grof op en sprinkel growwe sout oor en plaas in ‘n bak wat dieselfde grootte as die bak waarin jy die sap gegiet het. Plaas die roomys bak dan direk op die sout bak. Sout verlaag die temperatuur van ys en so maak jy vinniger roomys. Elke uur vir die volgende . Plaas dan die roomys wat jy maak se bak binne ‘n ander bak wat dieselfde grootte is en elke uur vir paar ure moet jy dan die bak uit haal en die kristalle met ‘n draad klitser fyner maak. Sodra die slush puppy fase bereik is, giet.
Vries en geniet!

Bron: www.annelienpienaar.co.za deur Annelien Pienaar, 1999Hoeveelheid: 24 lollies of jy kan selfs ysies met dit maak.
Hoeveelheid: 24 lollies