Salsa is ‘n heerlike item om by ‘n uitpak slaai asook ‘n kaasbord te bedien. As ek salsa hoor, dan dink ek Mexikaans. My buurvrou se dogter is met ‘n Mexikaner getroud en woon ook in Mexiko. Ek het al vele gesprekke met haar gehad oor die kosse van hierdie land. Ek het geleer dat daar verskeie soorte Salsa’s is en hier is my opsomming van resepte wat sy oor die foon afgerammel het en ek getoets het, ontwikkel het vir die smaak profiele met inaggenome die Suid-Afrikaanse konteks.

Onthou ook dat n Salsa nie net ʼn rou groente resep is maar kan ook geroosterde groente bevat of gekook word. Dit is hoe die Mixikane mens so bietjie verwar. Vir hulle bestaan n salsa uit ui, een of ander vorm van ʼn rissie familie en dan ook met of sonder ʼn tamatie. Soms brand dit baie soms is die gereg matig. Dus bepaal jy ook self die rigting waarin hierdie geregte gaan. Wees kreatief en geniet. Dalk ontdek jy die groente boer in jouself en begin rissies en vele meer aan plant vir unieke smaak profiele vir Salsa makery.

Baie mense hou nie van die smaak van koljander blare (cilantro of corriander is die ander name), baie mense reken dit ruik soos stink gogga, MAAR so het ek ook gedink totdat ek dit in ʼn Salsa geproe het en saam met tamatie of ʼn rissie tipe groente het die smaak skielik net sin gemaak en die geure het heerlik getrou. Probeer gerus, jy sal aangenaam verras wees.

Loer gerus ook in Vleis die omvattende gids is daar ʼn rits salsa resepte ook soos my heel gunsteling die Salsa Verde!

Salsa Bandera (Pico de Gallo)

Hierdie naam dui op die kleure van die landsvlag van Mexico en word ook in die slaai verteenwoordig met die groente byvoegings.

2 medium jalapenos, in ringe gesny
2 medium tamaties, klein blokkies gesny
¼ medium grootte wit uit, fyn gekap
2 e gekapte koljander blare
2 -3 e asyn van keuse OF lemmetjie sap so ʼn halwe vars een uit gedruk of 1 e as jy gebottelde lemmetjie sap het.
Sout en peper na smaak

Meng al die bestanddele saam en laat dit marineer vir ʼn wyle voor bediening. Ek vind om so 1 e olyfolie of ʼn heerlike chillie olie oor te giet laat dit net nog lekkerder proe. Dit is egter nie eg Mexikaans nie, maar my Boere Twist.

Hoeveelheid: 2 koppie mates

Geroosterde Jalapeño Salsa

Hierdie is ʼn heerlike salsa en ek smeer dit as ʼn basis gemeng met olyfolie op geroosterde stukkies ciabata of maak ʼn heerlike bruchetta platter met ʼn verskeidenheid van hierdie elemente.

4 rooi jalapenos
2 pruim tamaties of heerlike soet konfyt tamaties, daardie langwerpiges of selfs beeshart tamaties
1 knoffe toontjie
2 e fyn gekapte uie
2 e fyn gekapte koljander blare

Rooster die tamaties, jalapinos en knoffel in ʼn warm pan vir 2-3 minute. Haal van dit hitte en maak dig toe in foelie om so af te koel en die armoma’s om te trou vir 10 minute.

Maak die foelie oop trek die tamatie se skille af en kap al die groente grof op. Sout en peper na smaak en voeg die res van die bestanddele by.

Hoeveelheid: 2 koppies se mate

Romerige tomatillo en avokado salsa
Hierdie is die eerste keer wat ek ‘n boomtamatie/tomatillo/tamarillo geeet het toe ek hierdie resep moes maak. Ek het op n Groente tuin groepie op FB die sade bekom en LANK gewag vir die heerlike vruggies. Verseker die moeite werd om dit te plant. Later vind ek toe uit my ouma het dit Boom tamaties genoem! So, hierdie vruggie is al vir baie jare reeds in SA.
2 jalapenos, ringetjies gesny
½ medium wit ui, fyn gekap
7 medium boom tamaties (jy kan soet kersie of roma tamaties gebruik)
2 knoffel toontjies
1 k koljander blare, vars
½ t grof gemaalde swart peper
1 ryp avokadopeer
Sout na smaak

Rooster die tamaties, uie, knoffel en jalapino vir 10 minute op ‘n pan. Die knoffel eers die laaste 2 minute. Vou toe in foelie en laat so afkoel.

Plaas al die bestanddele in ‘n voedselverwerker en puree tot glad.

Hoeveelheid: 2 koppies of dalk meer se mate.

Lemoen, avakodo en mango salsa

Wat ‘n heerlike en vars salsa vir die somer!

1 ryp mango, geskil en in klein blokkies van 1 cm by 1 cm
½ koppie rooi ui, fyn gekap
1 lemoen geskil en wiggies uit vliesies gesny, 1 cm by 1 cm
1 ryp avokadopeer in blokkies gesny van 1 cm by 1 cm
1 serrano of enige ander warm rissie, fyn gekap of 2 jalapino’s
3 e lemmetjie sap
1 e olyfolie
Sout en peper na smaak

Meng al die bestanddele saam en laat vir ‘n uur of wat marnieer voor gebruik.

Hoeveelheid: 4 koppies

Bron: www.annelienpienaar.co.za deur Annelien Pienaar, 2003