
Ek hou van lekker kampkos en veral as daar oorskiet pap is om dit dan in hierdie paptert balletjies te omskep. Jy kan egter ook met vars mieliepap die gereg brei. Jy is daarom nie beperk om te kan Twist met die resep! In hierdie resep verwys ek ook na kort paaie en heerlike geurige opsies uit my kookboeke Boerekos met ʼn Twist en Vleis die omvattende gids. My lewe draai om geurige, maklike en praktiese resepte. Ek leer jou in my werke met elke resep, ʼn les en ʼn oplossing vir kombuis kopkrappers.
Ek is ʼn besige boervrou, ma, besigheidsmens en moet ook planne maak om nie myself moeg te werk wanneer ons vir ʼn naweek weg gaan of sommer met vriende heerlik braai en kuier. Daarom hierdie resep. Jy kan paar opsies oorweeg om die resep vir jou makliker te maak en gebruik te maak van die heerlike verslawende Pastasous in Boerekos met n Twist. Hierdie sous kan gebottel word of bevries. Witgoud in my huis. Dan is daar ook ʼn kits Witsous mengsel wat jy as ʼn droë mengsel maak en dan lepels vol uitskep en net water by giet…dit alles maak my lewe makliker. Loer gerus my boeke is internasionaal en ook in SA by menige boekwinkels beskikbaar en aanlynby Take a lot.
Medium stywe pap
2 k growwe mieliemeel
4 k water
1 t sout
4 e plaasbotter
Verhit die water, sout en botter tot kookpunt in ‘n kastrol van jou keuse met ‘n dig passende deksel. Met ‘n draad klitser (whisk), klits die mieliemeel baie vinnig en deeglik by, op hierdie manier sal die sous nie klonte vorm. Die ander manier is om so n halwe koppie water met die meel te meng tot ‘n growwe nat sand tekstuur en dan by die kokende water te roer.
Draai die temperatuur af na matige hitte of as jy oor die kole werk, hou so op die kant van die kole en laat die pap rustig prut vir 10 minute. Roer dan weer die pap goed deur, die tekstuur van die gaar pap moet ongeveer van so n aard wees dat waareer die pap met ‘n lepel saam gedruk word, dit ‘n vormpie maak en saam klou. Sou dit nie die geval wees, giet 1 k kookwater by en roer goed deur en stoom verder vir 20minute. Laat die pap tot lou warm afkoel.
Berei die bestanddele voor wat in die pap gemeng moet word soos volg:
2 k gerasperde cheddar kaas
2 e knoffel(of minder, maar ek hou van baie om die muskiete weg te hou!)
2 k fyngekapte gaar spek, nie bros gebraai…jy kan natuurlik 1 koppie uitgebraaide kaiings bysit! Of biltong OF ham…
1 k uie gebraai saam met 3 k sampioene, 2 k soetrissies, ¼ k seldery
2 k medium dikte witsous
1 e gegeurde sout uit Vleis die omvattende gids
Peper nasmaak
Witsous
2 k melk, lou warm in die mikrogolf oond verhit
5 e botter of goeie kwaliteit bakkers margarien met vetinhoud van 80%
6 e koekmeel
1/2 t sout
Smelt die botter in ʼn kastrol oor matige hitte. Roer die koekmeel by, sodra die botter gesmelt het. Braai vir twee minute en voeg dan die helfte van die melk by en roer dan baie goed en vinnig met ʼn draad klitser (whisk) om klonte te voorkom.
Voeg die res van die melk by sodra jy ʼn gladde mengsel het. Laat die sous eers goed afkoel voordat dit gebruik word.
Wenk: druk asb n stukkie botter papier of kleefplastiek oor die sous om ʼn vel wat vorm te voorkom. Onthou om die wistsous tegelyke tyd met die pap te maak. Dan kan beide genoeg tyd kry om af te koel terwyl jy besig is om die groente voor te berei ens.
Sodra al die bestanddele gereed is meng dit saam tot ʼn eenvormige mengsel. Neem dan ʼn roomys scoop en meet dan so die grootte van die pap balletjies af. Skep in gesmeerde tertbak.
Maak dan ʼn vinnige Tamatie smoor:
500 g tamaties, blasjeer, skil met kookwater verwyder en fyn op gekap
2 groot uie, fyn gekap (1 1/2k)
2 e -5 e suiker (wit of bruin of heuning of geen)
¼ k asyn
1 e mielieblom aangemaak in die asyn, hou eenkant
1 e gerookte paprika
1 e origanum
Sout en peper na smaak
Braai uie, voeg die tamaties by en kook totdat die tamaties sag is.
Voeg die res van die bestanddele by en kook tot verdik vir 5 minute. Giet warm oor die paptert balletjies en sprinkel met kaas indien verkies. Bak dan in die Lugbraaierof oond by 180 C vir 30 minute. Hierdie resep vries ook baie goed ongebak en kan net so vanaf bevrore direk in die oondjies of oond gaan. Skakel die oond aan, plaas die gereg in die koel oond…sodra die oond op temperatuur kom, tel nog 10 minute ekstra by en die gereg sal deur gaar wees.
Bron: www.annelienpienaar.co.za vir Pretoria FM luisteraars in die Buitelewe program deur Annelien Pienaar