‘n Heerlike kleurvolle slaai en ook kaas- en charcuterie bord, bros en krakerige sous. Hierdie botteltjie witgoud maak ook die aller mooiste gebottelde geskenkies aan spesiale gaste en ook kuiermense. Oorweeg ook om ʼn gegeurde roomkaas bal te maak wat dan in baie fyn neute gerol is en dan kan die kuiergaste so paar skeppies neem en dan bedruip met die growwe neute sousie.
½ k growwe gedroogde klapper
½ k amandels
½ k pistasie neute (ek verkies die gesoute weergawe)
1 k grof gekapte pekans
2 e sesame sade
1 k gedroogde vrugte van keuse grof gekap en in hierdie mengsel kan jy ook verglansde vrugte soos kersies, vye, makataan byvoeg
¼ t speculaas kruie
500 ml heuning rou, ongeveer
Meng al die droe bestanddele saam. Giet genoeg heuning oor om al die bestanddele te bedek. Ek verkies om direk in ʼn bottel te werk want die heuning is dik en taai, meeste bly agter as mens oorskep. Beperk die meng dus tot ʼn glas bottel. Jy kan ook dit oorweeg om die mengsel in kleiner bottels te verdeel en dan die heuning oor te giet. So het jy nie nodig om al die bestanddele te veel te meng.
Gebruik ʼn bamboes strooitjie of houtlepel se agterkant om die bestanddele goed deur te meng. Laat vir ʼn week of wat staan sodat die geure goed ontwikkel.
Kleur idees wat mooi lyk:
Pienk, bruin en groen lyk altyd mooi dus oorweeg die volgende kombinasies soos:
1. Pekans, pistasie en rooibosbessies (cranberries) waarvan die meeste neute pekans sal wees met die spikkels van groen en rooi.
2. Organiese roosblare, rooibos bessies, pistasie neute, Pekans…
3. Sitrus skil en pampoen sade lyk ook mooi
Geniet en wees kreatief…kom spog asb op die Faceboek blad Boerekos met ʼn Twist of tag my op Instagram by @Annelien Pienaar Food Consultant met jou skepping.
Bron: www.annelienpienaar.co.za deur Annelien Pienaar, 2022-12-21
Hoeveelheid: 1 liter bottel of 4 tot 5 kleiner bottels
Hi Annelien, ek kry nie pistasie neute(bly op n klein dorp) kan ek uitlos?
Beste Hanns, jy kan enige neut byvoeg van keuse en selfs uit los indien daar allergie is. Groete Annelien