Low carb en keto gebak kom met sy eie uitdagings en 3 jaar gelede toe ek begin het met die KLIC leefstyl program het ek gemerk dat daar ‘n groot behoefte is vir Keto en ook LowCarb gebak wat min of meer soos koring/stysel gebak uit kom. Hierdie resep deel ek nou graag met julle en kan vir julle redelike konstante resultate gee. Onthou egter die brosheid sal nie wees soos wat jy gewoond is met koring en stysel meel nie.

Indien jy al die reis met Keto en Low carb aangepak het sal jy wel verstaan wat ek hier bo bedoel en met ‘n “oop-kop” mentaliteit die proses aanpak.

Mag hierdie resep vir jou dinge baie meer draagliker maak tov jou begeerte na gebak wat nie te hoog is in koolhidrate.

Hierdie meel kan in 1:1 ratio tot gewone koringmeel soos koekmeel gebruik word vir gebak. Ek sal dit egter nie vir pastei, en gis brode aanwend nie. Hierdie resep is nog besig om verder getoets te word en ek ondervind nog strukturele probleme met gis gebak soos brode wat baie hoog moet rys. Maar, ons sal nog daar kom. Jy kan wel “half loafies” met sukses bak, maar groter brode val plat. Pastei kors resepte kom vir my baie taai uit en maak nie saak hoe ek aan die formule verander…die taaiheid is en bly.

Vir kleinkoekies, skons, muffins, koeke werk hierdie resep wonderlik. Ek hoop julle geniet die reis saam met my!

Vir neute meel kan jy tussen Amandel, Pekan en Macadamio spring. Al drie van hierdie neute is olierig en nie baie vesel wat die beslag droog mag maak. Die energie waardes van die drie is min of meer dieselfde wat dit ‘n wonderlike resep maak om te gebruik soos die voorraad en prys op die sak dit toelaat.

Neute meel: Om neute meel self te maak is baie maklik. Koop die neut in sy rou formaat. Jy kan amandels eers pel deur dit in kookwater te blansjeer vir 2 minute, af te koel en uit die doppies te druk of jy kan ook die skoon amandels koop. Die geheim van die neute maal is om dit vooraf baie goed te vries. En dan in halwe koppie mates in iets soos ʼn Bamix te verwerk. Die koue neute sal nie in botter verander as jy in klein hoeveelhede gevries werk. So beplan fyn en mooi.

Ek gaan die bestanddele se Engelse name lys vir die gemak vir jou om in die winkel die regte produk aan te skaf.

250 ml amandel/pekan/macadamia meel
125 ml klapper meel (coconut flour) nie dessicated coconut nie, jy kan wel fyn maal soos in neute meel beskryf
125 ml oat fiber/oat bran (dit is 100% gluten free)
5 ml xanthan gum (gelyk geskraap)
1 ml psyllium husk (oppas vir te veel asb…meet versigtig)

Meng al die meel saam en sif saam vir 3 x sodat al die bestanddele deeglik en egalig vermeng kan word.

Hierdie resep kan met groot gemak vermeerder word na volumes wat jy nodig het en dan lugdig in die vrieskas in kleiner ziplock sakkies vir tot 12 maande bevries word.

Mag hierdie resep sommer baie help.

Versoeters: ek wil tog aandui dat om met xylitol te bak is nie gewens en ook die feit dat mense dink jy kan dit 1:1 gebruik tov normale resepte. Dit sal jou gastriese stelsel vir maande in skok sit. Werk met stevia druppels of dan erythritol. Hierdie word nie deur die liggaam absorbeer.

Onthou altyd dat ʼn oormaat van kunsmatige versoeters verseker ʼn negatiewe invloed op jou gesondheid mag hê.

Sterkte met jou glutenvrye, low carb en Keto rys. Loer gerus vir Gluten allergië na hierdie meel resep. Dit is nie Low carb of Keto vriendelik nie, maar kan dalk iewers iemand baat. Gluten vrye meel resep

Nutri table: Per aanmaak kry jy 12 porsies: elke porsie bevat: 48 Kalorie, Vet: 3g, Carbs: 1.5 g Protein: 2g

Bron: www.annelienpienaar.co.za deur Annelien Pienaar, 2016
Hoeveelheid: 3 k meel