Hierdie koek is VEERLIG en dekadent! Dit oorsprong is van Italiaanse oorsprong en verseker ryk en lekker! Die meng tegniek vir hierdie koek is bietjie anders as die normale koek resep en meer ʼn botterkoek of pound cake tegniek, met die verskil dat die botter saam met die droë bestanddele in gewerk word. Hierdie aksie het tot gevolg dat die stysel korrels omhul word met die vette en dus die ekstra sagteheid verleen aan die koek wat nodig is. Hoop jy gaan hierdie resep sommer baie geniet.

Ek wil tog voor jy begin jou herinner, om te weeg is om te weet jy gaan sukses smaak…lees meer oor koppie mates in die Boerekos met ʼn Twist. Loer ook ek het die resep bietjie anders geskryf!

335 g (2 ⅔ k) koekmeel
400 g (2 k) wit suiker
10 ml (2 t) bakpoeier
2.5 ml (1/2 t) koeksoda
10 ml (2 t) kaneel
2.5 ml (1/2 t) neutmuskaat, opsioneel
Knippie wit peper, opsioneel
2.5 ml (1/2 t) gemmer poeier
1 ml (¼ t) sout
180 g botter, sag (maar nie pap, klei tekstuur) en by kamertemperatuur, verdeel in 10 stukkies

Voor verhit oond na 170 C en smeer twee panne (rond of langwerpig) 25 cm deursnit verkieslik. Anders, kleiner panne sal ek die beslag in drie deel en in drie kleiner panne bak. Sny ʼn ronde basis en plaas onder in pan om te verseker die koek kom perfek uit die pan.

Sif die droë bestanddele saam. Klits die botter stukkie vir stukkie by en meng totdat dit soos growwe mieliemeel lyk.

355 ml (1 ½ k) karringmelk of amasi, by kamertemperatuur
2 ekstra large eiers, kamertemperatuur
5 ml (1 t) vanielje geursel
½ t amandel geursel, opsioneel maar maak ʼn heerlike verskil

Meng al die nat bestanddele saam en klits goed deur. Meng dan die vloeistof by die meelmengsel in deur dit vir 5 minute deur te klits.

60 g (1 k) fyn klapper
100 g (1 k) grof gekapte pekan neute

Vou die klapper en neute in die beslag in met ʼn deegskraper. Moenie oor meng, maar gebruik ʼn figuur 8 beweging en draai die bak soos jy werk. Dit behoort so 2 minute te neem. Skep in voorbereide panne en bak vir 40 minute (soms langer afhangend van pan grootte en hoogte bo seespieel.) toets met tande stokkie in die middel voordat jy die koek uit haal. Bak dan nog 10 min langer as dit moet.

Laat koeke in die panne afkoel en keer dan uit op draad rakkies en verwyder die papertjies. Plaas koeke in die vrieskas terwyl jy die versiersel/vulsel aanmaak. Dit help net met ʼn mooi set met die lae.

Sodra die vulsel/versiersel gereed is, haal koeke uit en verdeel in lae. Dus werk ons hier met ʼn 4 laag koek.

Smeer vulsel en pak lae. Doen n dun lagie van die versiersel om die kante en trek gelyk. Vries en herhaal die buite versiersel tot glad.

Rond die bokant af met oorblywende versiersel en rond af met Pekans, growwe klapper stukke n Kaneel stokkies.

Versiersel
230 g (1 k) botter, kamertemperatuur, en vooraf geroom
450 g roomkaas, kamertemperatuur, vooraf geroom (loer na die artikel op die webtuiste oor hoe om jou eie roomkaas te maak)
15 ml (1 e) vanielje geursel
1 kg versiersuiker

Maak seker dat die botter en die roomkaas apart goed deur geklits word om dit romerig en egalig te maak. Hoe langer jy die botter klits hoe ligter word dit. Jy kan bakkersmargarien van 80 % gebruik maar hierdie koek beloon jou as jy mense wil bederf deur net in botter te werk.

Meng die botter en die roomkaas saam sodra dit klaar apart verroom is. Klits dan vir 5 min goed deur en voeg ook die geursel by.

Meng die versiersuiker koppie vir koppie by. As jy alles op eenslag byvoeg gaan jy net stof wolke sien trek. Werk ʼn koppie in en voeg by, hou so aan tot al die versiersuiker ingewerk is. Klits dan tot baie lig en romerig.

Sit die koek lae aan mekaar. Rus verkieslik vir 24 uur voordat jy dit bedien so ontwikkel die geure mooi en ook bedien by kamertemperatuur vir ʼn ongelooflike smaak sensasie.

Bron: www.annelienpienaar.co.za, 2020, deur Annelien Pienaar opgestel vir Geskenke uit jou Koskas.
Hoeveelheid: 1 dubbel laag koek van 25 cm