Chiffon koek is seker vir my persoonlik een van die klamste en sagste koeke wat ek al gebak het. Die vla lae word geskei met ‘n smeerseltjie karamel wat die koek net nog meer verruklik maak. My gesin smeek baie vir hierdie karamel en vla basis koek en hoekom die soetheid nie ook met die lesers deel. Lees asb die resep volledig deur voordat jy net weg spring.
Koek beslag
4 ekstra groot eiergele, kamertemperatuur
70 g (1/3 k) strooisuiker
85 ml (1/3 k) ingedampte melk of melk wat net onder kookpunt verhit en dan afgekoel het
65 ml (¼ k) sonneblom olie
5 ml (1 t) vanilla geursel
140 g (1 k) koekmeel
1 ½ t bakpoeier
Knippie sout
4 ekstra groot eierwitte, kamer temperatuur
¼ t kremetart
70 g (1/3 k) strooisuiker
Voorverhit oond na 170C. Voer 2 x 20 cm ronde koekpanne uit met bakpapier en pansmeer. Omdat dit ‘n chiffon koek basis is, moet ons verseker dat die basis maklik uit die koekpan kan keer.
Plaas die eiergele in ‘n mengbak en klits liggies vir ‘n minuut. Voeg die suiker by en klits baie goed deur tot opgelos. Daarna gevolg deur die ingedampte melk en olie. Maak seker dit is goed gemeng.
Sif die koekmeel, sout en bakpoeier saam. Vou dit by die eiergeel mengsel in asook die vanielje geursel.
Klits die eierwitte met die kremetart totdat die wit begin set en die spaan merke wys, voeg die helfte van die derde koppie suiker by en klits vir 2 minute op medium spoed. Voeg dan die res van die suiker by en klits tot ‘n stywe meringue.
Vou in drie dele die eierwitte in by die beslag dmv ‘n draadklitser te gebruik en baie saggies sonder om die volume te laat daal.
Skep die beslag in die voorbereide panne en bak vir 35-40 minute. Die koek sal begin los trek van die kante. Laat in die pan afkoel vir 5 minute en keer dan versigtig op ‘n draad rakkie uit. Laat goed afkoel voordat die koeke verdeel word om 4 lae te maak.
Vulsel
1 blikkie karamel kondensmelk (opsioneel)
4 ekstra groot eiergele (vries die eierwitte vir latere gebruik soos meringues)
1 blikkie (385 g) kondensmelk
40 g (1/3 k) mielieblom (maizena)
1 blikkie (380 g) ingedampte melk (klappermelk of amandelmelk proe ook heerlik)
45 ml (3 e) botter
Plaas al die bestanddele (behalwe karamel kondensmelk) in ‘n vuurvaste glasbak. Klits goed met ‘n draad klitser deur.
Plaas in die bak in ‘n mikrogolf oond en verhit by 100% krag vir 30 sekondes en roer goed deur. Verhit dan vir n minuut en meng. Hou so aan deur elke minuut te stop en te meng totdat die mengsel verdik het. Verwyder uit die mikrogolf oond en roer die botter by. Die mengsel sal mooi glansend word.
Sodra die koek afgekoel het, sny in lae. Klits met ‘n vurk die karamel kondensmelk tot smeerbaar. Smeer die lae van die koek met die karamel. Daarna volg met die vlavulsel en smeer ook die kante van die koek.
Eindig dan met ‘n lagie klapper indien verkies. Soms as die klapper klaar is gebruik ek pekan meel of enige ander neute meel in die huis. Verder kan jy Chantilly room as vesiering op die koek verdien vir ekstra lekker en rykheid.
Chantilly room
250 ml vars room (koop by die koue melk afdeling, nie lang lewe room), rede is die smaak is net soveel beter, as jy nie anders kan, gebruik maar die lang lewe.
5 e versiersuiker
3 e likeur van keuse of rum geursel of selfs brandewyn…
Klits tot styf en bedien dadelik. ʼn Heerlike wenk is om bietjie grof gekapte neute in die room in te vou!
Bron: Annelien Pienaar, 2020, www.annelienpienaar.co.za
Hoeveelheid: 1 x dubbel laag 20cm koek