Hierdie is die lekkerste wit sjokolade fudge en jy kan behoorlik mal gaan met die geure en kombinasies van stukkies in die resep.
Lees asb die volledige beskrywing en moenie sommer net weg spring en maak. Ek het die basis resep vir jul berei en ek wil graag die variasies mooi met julle bespreek.
Turkish delight
Hier is die tydsberekening van groot belang. Die fudge moet gegiet word en dan word die stukkies Turkish delight in die mengsel gedruk. As die mengsel te warm gaan wees sal die Turkish delight smelt. So hou dop dat die mengsel so 2 minute staan voordat jy die stukkies in sit. Ek sny gewoonlik my tuisgemaakte Turkish delight stukkies in ongeveer 1 cm stukkies. Dan kry mens meer ‘n glas venster effek. Jy kan natuurlik die tuisgemaakte Turkish delight verander in enige kleur met ‘n geur wat daarby pas soos groen vir ment! Ek het onlangs 2 kleiner slabs van Peppermint crisp grof gekap en ook saam met die Turkish delight in gevou en 1 druppel essensiele Pepperment druppel. Soos jy kan sien…kan jy baie kreatief raak. Sprinkel die sjokolade oor sodra die mengsel in die pan is en neem ‘n vurk en trek dit deur sodat die stukkies so ingemeng word.
500 g (2 ½ k) wit sjokolade splinters of donker of karamel sjokolade splinters. Hier kan jy heerlik met die kleur van die fudge speel en die stukkies wat jy in sit. Vir bruin melk sjokolade en donker sjokolade kan jy ;n halwe koppie kakao eers met 5 e kookwater aanmaak en dan by die res van die bestanddele in meng tot glad vir ‘n dieper en ryker smaak.
210 g (1 k) strooisuiker, sif asb goed want klonte gaan nie in die dik mengsel kan oplos
385 g blik kondensmelk
1 t karamel geursel of geursel van keuse
½ k droë vrug van jou keuse (ek het cranberries hier gebruik), oorweeg ook om iets soos Turkish delight in te werk ipv die droe vrugte.
½ k neute van keuse, reeds gerooster
Ekstra droë vrugte en neute om bo-oor te sprinkel. Dink ook daaraan om roosblare wat jy self gedroog het en wat sonder gif behandel is, oor te sprinkel. Dit vertoon ook pragtig.
Smeer ‘n bakplaatjie of ‘n glasbak uit met botter en sit dan ‘n laag bakpapier, nie wax paper, onder in die bak en ook teen die kante om die fudge makliker uit te lig. Hou eenkant. 20 x 20 cm pannetjie is perfek.
Plaas die kondensmelk en strooisuiker in ‘n mikrogolf veilige houer, verkieslik glas met n 2 liter mate, meng eers goed. Die mengsel kook vir ‘n volle 4 minute maar hier is die vang plekke: Verhit die mengsel vir 2 minute en roer goed deur, die kondensmelk moet loperig wees en warm. Daarna elke 30 sekondes stop, roer, skraap kante af. Jy mag dalk dit nie maak tot by 30 sekondes as jou bak te klein is, want die mengsel gaan wil oor kook! Hou so aan om dan elke 30 sekondes te stop en roer totdat die 4 minute op is.
Krities! Laat die uiters warm mengsel eers vir 2 minute afkoel voordat die sjokolade bygevoeg word. Die kondensmelk mengsel gaan te warm wees en die sjokolade sal een bol set. So wees versigtig. Roer bietjies vir bietjies by. Daarna moet jy vinnig werk en die neute en rooibosbessies dadelik in meng per hand en in die pan skep en gelyk maak. Sit versierings op as jy so verkies en druk liggies vas.
Laat die pannetjie goed afkoel tot jy kan voel as jy sny dat dit nie voutjies sal maak of te hard dat dit sal bars as jy sny. Indien jy te lank gelos het, sit in oond van 120C vir 5 min en dit sal dan meer snybaar wees.
Los dan om baie goed te set vir 3 ure voordat jy ontvorm. Ek sny met n baie dun lem groente messie die vingers weer deur voordat ek uit keer.
Bron: www.annelienpienaar.co.za deur Annelien Pienaar, Kersfees Geskenke uit jou Koskas klas 2021
Hoeveelheid: 750 g of 24 kleiner blokkies as jy werk op 20×20 cm bak
Geseende Feesseisoen. Ek wil graag die wit sjokolade fudge maak. Die wit sjokolade splinters? Bak sjokolade of MIlky Bar. Baie dankie
Harriet, dit moet die splinters wees of plat skyfies. Groete Annelien