My kindertyd lekkergoed wat soveel heerlike herinneringe mee bring! Rooswater se troos aroma is ongekend en die smaak van sitrus in die geel lekkers. Ons het altyd baklei oor die pienk lekkers en eers al die versiersuiker af gesuig en dan begin eet.
Resep
20 g gelatien wat gespons word oor 60ml water
410 g witsuiker
Knippie sout
35 g maizena, mielieblom
1 ml sitroen suur of wynsteensuur (voorkom suiker kristalle)
200 g Water (ja, jy het reg gelees…gram…want sommige maatbekers is verkeerd)
15 g Suurlemoensap of 2.5ml Rooswater (afhangend van die geur wat jy wil verkry)
1 Druppel pienk gel kleursel, indien jy die rooswater variasie doen
Berei ‘n pannetjie voor deur dit met kleefwerende sproei te spuit. Die afmetings vir die ideale pan is: 12cm x 20cm.
Sprinkel die gelatin oor die 60ml water en laat dit vir ‘n paar minute hidreer.
Meng die suiker, sout, maizena, suur en voeg 200g water by en roer oor lae hitte totdat die suiker opgelos het. Die water mag nie kook voordat die suiker nie opgelos het nie. Was die suiker kristalle van die kant van die kastrol af. Dit sal voorkom dat die klaar lekkers nie sandsuiker word nie.
Kook dan vir 6-8 minute die mengsel oor stadige hitte.
Verwyder van die hitte en voeg dan die gelatien en suurlemoensap (of rooswater) by. Moet nooit geursels by kokende goed gooi nie, die geursel se aroma verdamp.
Gooi die inhoud in die voorbereide panne en laat dit 24h staan om te set. Dit moenie in die yskas gesit word nie. Sny dan in blokkies van jou keuse en rol in:
2 dele mielieblom tot 1 deel versiersuiker, hierdie stof kan vir maande geberg word en net gesif en weer gebruik word.
Laat die blokkies dan oornag droog op ‘n afkoel rakkie nadat dit gedust is en dust dit weer en droog weer vir ‘n dag by kamertemperatuur en hou bedek teen gogga’s met ‘n doek of net. Hierdie sal help dat die lekker nie taai word en ‘n mooi stewige buite laag vorm met ‘n smelt in die mond satyn binnekant.
Bron: Annelien Pienaar, 2015, www.bosenbergguestfarm.co.za
Hoeveelheid: 1 x swissrol pan
Annelien ek verstaan nie heeltemal nie, sê kook mengsel 6-8 min met gelatien by…daarna sê resep verwyder van hitte, voeg gelatien en geursel by…Dankie
Hallo Thelma, ek het die deel reg gemaak…gelatien mag nooit gekook word nie. Dus word dit bygevoeg as die kastrol van die hitte kom. Groete Annelien Pienaar
Hallo Tannie. 20 g gelatien wat gespons word oor 60ml water.. kan Tannie asb v my verduidelik hoe doen ek dit? Koop ek van daardie velle? Maar hoe maak ek dan? Baie dankie
Hallo Retha, Jy kry die poeier en jy kry die velle. Ek praat hier van die poeier. Jy meet die water af en dan sprinkel jy die afgemete gelatien oor. Laat dit staan totdat dit een rubber massa geword het vir 5 tot 10 minute en dan smelt jy dit deur die houertjie in kook water te plaas. Roer tot glad soos stroop. Groete Annelien
Hallo Annelien, spons jy die gelatine oor kamertemperatuur water? Ek het nog nooit met gelatine gewerk nie. Baie dankie
Elsabe, ja dit is kamertemperatuur water. Sprinkel die gelatien oor die water. Los vir ‘n wyle sodat dit hidreer en as jy daaraan voel sal dit soos ‘n rubber lagie wees. Smelt dan deur die bakkie in kookwater te plaas. en roer tot glad. Nie in die mikrogolf asb. Dit mag nooit kook nie. Groete Annelien
Baie dankie, waardeer