Hierdie koekie resep is ontwikkel om met Tekstuur hout drukkers of rollers
te gebruik. Veral in die geval van hout tekstuur drukkers is dit baie belangrik om ‘n deeg te ontwikkel wat nie in die hout vas suig. Kom ons kyk na hoe om hout drukkers te versorg en te gebruik.
Voor en na gebruik moet die hout drukkers met sonneblom olie en ‘n tandeborsel of kwassie geolie word. Laat vir ‘n paar minute staan, klad of druk die drukker op ‘n servet en gebruik dan direk in die deeg.
Indien jy die drukker gebruik met sy raampie gaan soos volg te werk: verdeel die deeg in presies 15 ml bolletjies en rol elke bolletjie perfek rond. Druk dan die bolletjie plat in die palm van jou hand en druk dan in die vormpie wat jy posisioneer op die bakplaat. Neem die tekstuur stempel en druk dan liggies dog ferm in die deeg. Sny of vorm die randte netjies indien jy die deeg dalk te hard gedruk het. Die vormpie help juis om ‘n perfekte ronde koekie te kry. Hoe meer jy oefen hoe makliker raak dit.

Indien jy die deeg wil uit rol, rol die deeg ongeveer 3 mm dik op ‘n meel bestrooide oppervlakte. Druk die geoliede drukker in die deeg en druk dan vormpies van jou keuse uit die deeg. Lig versigtig oor in die pan.
Skoon maak van drukkers: Indien deeg in die drukker sou vas sit, skrop met ‘n tandeborsel uit met bietjie meel en olie weer voor jy gebruik. Spoel die drukker altyd met warm water af, moet nooit week in water of met seep was nie. Die seep mag dalk in die hout in trek en dit droog maak en of smake gee. Druk die drukker droog na gebruik en laat op die sy kante droog word. Maak seker die drukker is goed droog voordat dit weer geolie en in ‘n lugdigte houer gepak word. Die beste kwaliteit hout word vir die hand gemaakte drukkers gebruik. Die hout keuse reageer goed met vog en sal vir jou lewenslank baie vreugde verskaf indien die versorgings rotine gevolg word.

Basiese deeg
115 g (1/2 k) botter of bakkers margarien (80 % vet inhoud) by kamertemperatuur en sag
100 g (1/2 k) strooisuiker
Knippie sout
1 ekstra groot eier (50 g)
5 ml (1 t) vanielje geursel
280 g (2 k) koekmeel
30 g mielieblom
¼ t bakpoeier
Voor verhit oond na 180C. Verroom die botter vooraf tot romerig en lig. Voeg die strooisuiker en sout by en klits tot glad en romerig vir 8 minute.
Klits die eier by en klits vir 3 minute goed deur. Sif al die droeë bestanddele saam en knie liggies in.
Meet 15 ml bolletjies af en plaas in raampie en druk plat met drukker. Onthou om hier net liggies te druk en wikkel los.
Bak die koekies vir 10-15 minute tot ligbruin en gaar.
Variasies
Al die bestanddele bly dieselfde behalwe vir die koekmeel ratio wat verander soos volg:
Vlakoekie: 200 g koekmeel plus 50 g vla poeier
Mielieblom koekie: 200 g koekmeel plus 50 g mielieblom.
Sjokolade koekie: 200 g koekmeel plus 50 g kakao
Matcha koekie: 270 g koekmeel plus 10 g matcha poeier

Bron: Annelien Pienaar, Kersfees 2020, Tekstuurdrukker ontwerp
Hoeveelheid: 24 x 6 cm koekies
Ek neem aan mens sal eers die botter en strooisuiker goed klits, die eier byvoeg en klits en dan die droë bestanddele. Sal solank my vorige houtdrukker kan gebruik.
Geniet die dag Annelien
Hallo Lynette, loer asb die metode is onder aan die bestanddele lys sorgvuldig gelys. Laat weet as ek iets gemis het. Groete Annelien
Dankie Annelien. My metode was dus amper in die kol. Dit lyk na die heerlikste koekies en hopeloos te mooi om te eet. Eerder uitstal♥
Annelien, bak ek die koekies ook by 180c? Groete Rynette
Dit is korrek ja.
Hello Annelien, met hoeveel x kan ek die resep vermeerder?
En kan ek gewone suiker fyn maal tot strooisuker?
Hallo Rista, suiker kan jy self met ‘n hoe revulusie blender stok soos ‘n Bamix strooisuiker na verwerk. Jy kan die resep met gemak verdubbel. Groete Annelien
Hallo Annelien ek lees nou die resep, hoe meet ek die deeg? Moet dit 15gram wees, die resep se 15ml
Doreen, dankie vir jou navraag. Die 15 ml is een eetlepel se deeg. Ongeveer 22 g.
Groete Annelien