n Groot familie gunsteling met kuiertjies is hierdie heerlike uie slaai. Die kombinasies van hierdie slaai is legio want tussen ‘n braai ete of ‘n gekookte tradisionele ete bly hierdie ‘n wenner.

1 kg piekel uitjies, geskil
3 e geel mosterd saad of 2 e aangemaakte Dijon korrel mosterd
15 ml (1 e) mielieblom
5 ml (1 t) borrie
250 ml (1 k) bruin asyn
125 ml (½ k) kraan water
100 g (1/2 k) witsuiker
½ blikkie kondensmelk
knippie kaneel
Knippie gemmer
Knippie neutmuskaat
2.5 ml sout
3 eiers, geklits

Neem ‘n 5 liter kastrol en plaas die uie daarin en vul aan met kokende water totdat die uie bedek is. Kook die uie totdat ‘n vuurhoutjie of sosatiestokkie se agterkant deur gaan. Moenie die uie te pap kook nie. So ‘n effense brosheid is perfek. Onthou plaas die deksel op soos jy kook. Dreineer die uie goed.

Meng die mosterd , maizena, borrie, water, asyn, suiker, kondensmelk en sout in ‘n aparte diep kastrol en bring tot kookpunt. Verwyder van die hitte en klits die eiers vooraf eers tot goed gemeng met die hand deur ‘n draadklitser te gebruik. Voeg ‘n klein bietjie van die kokende mengsel by die eier en klits goed, voeg weer ‘n bietjie by en klits weer. Skep die eiermengsel by die orige mengsel in die kastrol en plaas terug oor die hitte en roer terwyl die mengsel weer tot kookpunt gebring word. Voeg die uie, kaneel, gemmer, neutmuskaat by die mengsel en kook vir ‘n minuut en skep dadelik uit in ‘n opdien bak en laat goed afkoel. Indien hierdie slaai vir ‘n dag staan sal dit nog lekkerder word. Die raklewe is ongeveer 7 dae in die yskas.

Bron: www.annelienpienaar.co.za 2020

Hoeveelheid: 1 kg se slaai