
ʼn Veelsydige kaaskoek resep wat ʼn paar opsies vir ons gee tov wat ons tyd toelaat. Jy kan hierdie koek berei en dan ongebak vries om later te bak. Ideaal vir die feestyd wat ophande is. Geure kan met ʼn keuse van ʼn dubbel dik gegeurde joghurt aangepas word. Kom ons begin!
Onder kors
100 g tennisbeskuitjies fyn gedruk
50 g botter / bakkersmargarien, gesmelt
Maak seker koekie krummels is fyn en meng die gesmelte botter by die krummels in tot goed gemeng. Plaas ʼn vel bakpapier onder in die pan en smeer met Pansmeer uit die Boerekos met ʼn Twist kookboek. Druk die koekiekrummels in ʼn reghoekige of ronde pan van 23x 23 cm en verkoel in die yskas tot nodig.
Bo kors (vir die doel van die foto het ek die krummel baie dun gestrooi en in die middel sentreer, dus nie sigbaar op foto)
45 g (3 e) botter
45 g (4 e) bruin suiker
50 g (5 e) koekmeel
40 g (6 e) neute meel van keuse of alternatiewelik 20 g koekmeel
Plaas die bestanddele in ʼn voedselverwerker en verwerk totdat die mengsel soos droë broodkrummels lyk. Alternatiewelik vryf met die vinger punte in. Plaas hierdie mengsel in die yskas vir ʼn uur om hard te word.
Vulsel
230 g roomkaas (1 standaard SA bakkie)
100 g (½ k) strooisuiker
2 groot (large) eiers
15 ml (1 e) mielieblom
150 g suurroom / karringmelk / dubbel dik ongegeurde griekse joghurt (hier kan jy wel gegeur gebruik as ʼn kinkel in smaak)
10 ml (1 t) suurlemoensap
5 ml (1 t) karamel geursel
Voorverhit oond na 170 ℃.
Meng al die bestanddele saam tot glad vir 5 minute. Giet in die voorbereide kors en sprinkel dan die bo-kors oor. Bak vir 30 minute en verhoog die temperatuur na 200℃ en verbruin net vir ongeveer 5 minute. Haal uit en laat goed afkoel. Plaas in yskas en koel vir ʼn uur af.
Verwyder die kaaskoek uit die pan en sny in skywe soos verkies. Sprinkel met versiersuiker / karamel sous en garneer met vars besies en room op die kant indien verkies.
Karamelsous
1 blik karamel (gekookte kondensmelk)
100 ml room
Plaas room en karamel in ‘n glasbak en verhit totdat die mengsel loperig is om te giet. MOENIE oor verhit want as jy dit warm oor giet gaan die Kaaskoek begin smelt. So fyn balans in die smelt deel.
Versierings is gedoen met die Pavlova resep in die Boerekos met ‘n TWist kookboek en ‘n drukkertjie roomys scoop in kleiner bolletjies en dan Karamel springmielies ook in BKT kookboek.
Bron: www.annelienpienaar.co.za ontwikkel vir die lesers van Boerekos met ʼn Twist en volgers van die groep Boerekos met ʼn Twist.
Hoeveelheid: 4-6 porsies