Geurige en heerlike wortelslaai in gemaak om net vinnig van die rak te neem en te geniet. Hierdie resep is ook vinnig om te berei en perfekte pasmaat vir ‘n heerlike braai. Soms as variasie voeg ek rosyntjies by vir ekstra soet.

1.5 kg wortel ringetjies ongeveer 3 mm dik gesny en geskil
300 g soetrissie enige kleur, blokkies of repies gesny
300 g wit uie, fyn gesnipper
1 seldery stingel, papier dun skyfies

Voor verhit ‘n kastrol met 5 liter water en voeg daarby 2 t sout. Plaas die wortels in die kokende water en kook vir 5 minute. Die wortels moet nog bros wees maar nie deur gaar en pap nie. Wees versigtig vir pap kook. Dreineer die wortels.

Kerrie tamatiesous
400 g (2 k) witsuiker
375 ml (1 ½ k) bruin asyn
250 g (1 k) tamatie puree (die dik rooi pasta in die klein houertjies of pakkies)
20 ml gladde Dijon mosterd
60 ml (4 e) mielieblom aangemaak met 50 ml water
½ t kerrie poeier
¼ t tot ½ t sout
¼ t swart peper grof gemaal

Meng al die bestanddele saam in ʼn groot kastrol en roer oor matige hitte vir die suiker om op te los. Sodra die suiker opgelos het, voeg die wortels, uie, seldery en soetrissie by en kook vir 8 minute.

Steriliseer van bottels vir lang raklewe: was en spoel bottels en deksels met warm seep water. Plaas vir 10 min in 120C oond. Skakel oond af en hou bottels in oond.

Skep dadelik die warm wortels oor in die warm flesse en seel dig. En plaas elke bottel op ʼn skoon en droë vadoek en laat goed afkoel.

Waarskuwing: maak seker bottels is warm want dit sal bars as dit gevul word met warm inhoud. Bottels sal ook bars as dit warm af gevee word of op ʼn koue oppervlak geplaas word.