Boerebeskuit is deel van ons kos kultuur en een van my gunsteling bederf happies vir my gesin. Ons het ‘n gebruik tuis om ‘n pannetjie warm nat beskuit te breek en saam met ‘n glasie melk te geniet. Elkeen het ʼn hoekie wat hulle sin is en dit is maar ʼn gestoei om my Filistyne se dermpies gestop te hou. Die veertjie tekstuur is kenmerkend van hierdie beskuit en die bestanddele baie ekonomies. Die proses word binne etlike ure voltooi.
Voordat ons begin wil ek so ʼn dieper kykie gee in die geheimenisse van gis. Jy het seker al gemerk op die winkelrakke vind ons Kits gis (sulke fyn grys spikkels), Brouersgis (grys korrels) en dan Bakkers gis (nat grys kleiagtige gis). Hierdie drie gis soorte bevat almal die fungi genaamd saccharomyces cerevisiae wat die brood laat rys. Dit is ʼn vinnig werkende gis waar as ons met suurdeeg plantjies werk is die fungi wat daar aktief is sy boetie genaamd saccharomyces verguus. Dit is ʼn stadiger gis maar gee ongelooflike smaak en geur saam met die bakterie teenwoordig. Nou waarvoor is al hierdie soorte gis wat ek genoem het? Rys kits gis vinniger as ander? Nee, kits gis is so geformuleer om direk in die meel gebruik te word sonder om dit vooraf te hidreer en te aktiveer. Die kitsgis los dadelik op maar laat die brood nie vinniger rys as ander gis. Brouers gis het ʼn sterker en kenmerkende smaak, soos ouma se Boerebrood. Die korrels word vooraf hidreer met effe lou water en ʼn knippie suiker om as kos vir die gisselle te dien. As die gis dan aktiveer sal ʼn pragtige skuim baard vorm. So ongeveer 2 vingers hoog na 10 minute en dan weet jy hierdie gis is lewendig. Jy kan hierdie tegniek gebruik om ook vir Bakkersgis te doen maar ook om te toets of jou kitsgis aktief is. Maak altyd seker as jy gis gebruik deur eerder vooraf te hidreer en die skuim effek te sien. Neem van jou meng water (100ml) en ʼn knippie suiker, meng en sprinkel gis oor en roer dan goed deur om op te los…gebruik dan soos resepte voorskryf vir meng.
Nou terug na gis. Dit is belangrik om gis baie versigtig te hanteer t.o.v stoor en gebruik. Wanneer jy jou aankope doen stoor die gis in jou koelsak en stoor dan in die vries of yskas in lugdigte houers. Hitte sal wel gis baie skade doen oor ʼn lang periode en ook in jou warm motor se kattebak.
Maak seker as jy nie botter kan gebruik en margarien aankoop dat die vet persentasie altyd vir gebak bo 80% beloop. Minder as 80% beteken daar is x hoeveelheid meer vog teenwoordig en dit kan probleme met gebak gee.
1.5 liter water
600 – 800 g wit suiker
250 g margarien of botter
3 ekstra groot eiers
30 ml gis van jou keuse
2.7 kg koekmeel
25 ml sout
100 ml anys (opsioneel)
Voeg die res van die water, suiker en margarien in ʼn kastrol en verhit die bestanddele tot onder kookpunt. Roer te alle tye sodat die suiker kan oplos. Sodra die suiker opgelos het, verwyder van die plaat en laat afkoel tot 27 ℃.
Neem 1 k water en los die gis en 1 t suiker daarin op en hou eenkant. Hierdie mengsel moet ʼn skuim vorm voordat dit in die mengsel gebruik word.
Sif die koekmeel en sout saam. Maak ʼn holte in die meel en voeg die gismengsel in die holte.
Meng die eiers in die afgekoelde botter en suiker mengsel en klits goed deur. Voeg ook by die meel mengsel en knie vir 10 minute totdat die deeg glad is.
Laat die deeg vir 30 minute staan en knie weer goed deur. Laat die deeg dan rus sodat dit verdubbel in volume. Onthou om die deeg te alle tye dig toe te hou met ʼn stukkie kleef pastiek wat met olie gesmeer is. Bedek met ʼn kombersie om warm te bly. Die binnekant van jou oond met die die oondliggie aan is die perfekte “broeikas” vir die deeg as dit winter is. Of ʼn warm kol in die huis. Hierdie deeg moet in volume verdubbel en groei. Dit sal enige iets van 60 minute neem tot 3 ure na gelang van die temperatuur.
Sodra die deeg genoegsaam gerys het, kan die deeg bolletjies gevorm word. Ek werk per bolletjie op 60- 80 g elk. Hierdie deeg lewer ongeveer 6 piesang brood grootte pannetjies. 3 x 7 bolletjies in ʼn pan. Onthou om die panne met pan smeer of sproei kleefwerende middel voor te brei.
Hier is ʼn wenk wat sal voorkom dat jy te min of te veel rys met hierdie deeg. Sodra die panne gevul is skat met die oog hoe hoog die deeg is in die pan. Maak ʼn merk vir die dubbel volume van hierdie en wag dan sodat die deeg daardie merkie bereik. Dan eers mag jy die deeg bak. Onthou om die deeg bedek te hou te alle tye.
Voor verhit die oond na 180 ℃ en bak dan vir 45 minute. Die warm beskuit word dan met ʼn suiker stropie gesmeer van ʼn halwe koppie water gekook met ʼn halwe koppie suiker vir 3 minute in die mikrogolf en roer elke minuut om suiker op te los. Keer die beskuit uit om goed af te koel voordat dit in skywe gebreek word met die hand.
Bron: www.annelienpienaar.co.za 2020-04-20
Hoeveelheid: 100-126 stukkies beskuit
Hello Annelien. Die resep op Maroela het ‘n fout in. Dit sê een teelepel water ipv suiker. Sien punt 2 onder Metode. Groete. Tolla.
Hallo Tolla, baie dankie vir jou wakker oog. Hulle het die tikfout reg gemaak. Groete Annelien
Hallo Annelien, net n vraag asb, in resep staan daar 1,5 liter water en by metode staan voeg res van die water by suiker en botter, hoeveel is res en wat maak jy met die res van die water? Help my asb.
Jy gaan 1 k water van die 1.5 liter water uit haal. Groete Annelien
Hallo Annelien. Ek wil graag anys beskuit bak….maar AL die resepte wat ek tot op hede probeer het, gee vir my “GEEL” beskuit. As ek terug dink aan my ouma se anys beskuit was dit sulke groot WIT beskuite…wat lig was, en as jy ‘n stuk afgebreek het het dit sulke dun, ligte “vlerkies” gemaak. Ek wil ook vra van die gis…..Watter gis sal jy aanbeveel vir bostaande resep?
Riana, as jy hierdie resep gebruik sal dit verseker wit uit kom en nie geel. Die gis wat ek aandui in die resep sal ek nie verander…die smaak is intens soos dit moet wees. Lekker bak. Groete Annelien
Hello Annelien, kan mens hierdie resep in drie deel? Gaan dit n verskil maak?
Hallo Nicolene, Jy kan verseker sonder enige kommer. Groete Annelien
Hi, as ek karringmelk boerebeskuit wil maak, kan ek die koppie water vervang met karringmelk? Sal dit werk – ek onthou as kind het my ma karringmelk boerbeskuit by die tuisnywerheid gekoop, kon nog nooit ‘n resep daarvoor opspoor nie – dis of die een of die ander.
Johanita,
My die volgende skakel is die karringmelk resep wat jy na opsoek is. Lekker bak!
https://annelienpienaar.co.za/2020/05/30/aartappel-suurdeeg-beskuit/
Groete
Annelien
Hi Annelien
Ek het die beskuit gebak en dit is heerlik! Ek het my beskuit uitgedroog vir omtrent 4 ure in ‘n 75⁰C oond. Ek het nog so kolletjie in die middel wat nie heeltemal droog is nie, is dit hoe die beskuit moet wees? Of moet ek dit heeltemal uitdroog.
Groete,
Chevaughn Young
Chevaughn,
Baie dankie vir jou navraag. Afhangend waar jy woon en lugdruk mag dit dalk nodig wees dat jy so 2 ure langer moet droog. Die beskuit moet droog wees tot in die middel asb. Verder bepaal die grootte van die beskuit stukkie ook hoe lank dit gebak moet word.
Groete
Annelien Pienaar
Hi Annelien
Jy verstaan die beskuit ding baie goed! Dankie.
Kan mens die knieëry vervang met n menger?
Die hande en vingers wil nie meer knie nie😟
Ons sukkel om mooi en lekker anys beskuit te bak en gaan verseker jou resep doen👍
Andre, jy kan gis of suurdeeg met ‘n menger knie MAAR moenie met ‘n huishoudelike menger die 1 kg meel oorskry nie.
Hi Annelien wil graag weet waarmee kan ek die eier mee vervang ek is allergies vir eier
Hallo Magdelena, jy kan loer na die Eieromskakelings artikel of Eiervervanging… Groete Annelien
Dankie vir al die lekker inligting wat jy gee. Ek bak aartappelsuurdeeg beskuit. Ek wil oorskakel na kniemasjien. My mengsel deeg en res is 5kg. Sal 20liter masjien voldoende wees? You die belangrikste vraag, ek is bang dat kniemasjien te fyn beskuit sal gee. Waarvoor moet ek oppas? Jammer vir al die vrae.
Petro, ‘n 20 liter sal reg wees. Geen oppas of kommer. Jy weet mos hoe die beskuit moet lyk as die deeg amper reg is. So hou dop en leer die nuwe instrument ken. Groete Annelien