Tradisionele “butter chicken” word gemaak met heel hoender wat verkieslik ontbeen is, maar is opsioneel. Die gereg is baie ryk van wee die botter/ghee/room wat in die resep gebruik word. Dan om die kleur in die gereg te kry word tamatie puree of net gewone tamatie in die laaste fase van die gaarmaak proses gevoeg. Die gereg neem ʼn wyle omdat die hoender oornag in ʼn spesery jogurt mengsel marineer. Die geure en kleure aan die einde is ongelooflik. Die hoender word dan met vars gekapte koljander blaartjies bedien. Reg oor die aardbol is daar al van hierdie heerlike hoender geëet en die aanbiedings verskil met kruie en speserye, maar die basis van hoender, botter, tamatie en speserye bly dieselfde.
My liefde vir Indiese disse begin van die dag wat ek kan onthou en dit is so 3 jaar oud gewees. Ons het in ʼn baie interessante omgewing groot geword met ʼn multikulturele samelewing. Duitsers oorwegend, Nederlanders, Portugese, Italianers, Indiërs en Engelse (die hoog Engelse tannies). Een van my ma se beste vriendinne was ʼn Moslem vrou en nog steeds ʼn familie vriendin by wie ek maandeliks nog besoek af lê, Naceema Patel. Hierdie vrou in haar piep klein kombuisie, toor met my verbeelding met die aankoms by haar voordeur. Die warm gevoel van hartlikheid stoot diep in my bors op en ek voel tuis by haar karige en netjies huisie. Om haar kombuis tafel het ons ure se gesprekke oor kos gehad, naaldwerk gedoen en saam nuwe geregte geleer maak. Sy maak beter boere koeksisters as ek en my purr is beter as hare. So, ek is baie lief vir hierdie stil vroutjie wat diep spore in my hart getrap het en my baie van kruie en speserye geleer het.
Hier is my eie weergawe van haar inspirasie in my “spice journey” vir kos.
1 kg Heel hoender ontbeen, jy kan enige hoender wat jy self in stukkies ontbeen gebruik of net gewoon dye, borsies, vlerkies met been gebruik.
250 ml (1 k) gewone jogurt
30 ml knoffel, fyn gedruk
30 ml vars gemmer wortel, sny eers in dun wieletjies en maak dan fyn, anders kry jy lang drade stringe
60 ml gerookte paprika
5 ml chillie vlokkies
30 ml atchaar masala in die BKT kookboek (dit is die geheime bestanddeel!) moenie uit laat
100 ml tamatie puree
10 ml borrie poeier
1 groot ui
250 g botter (niks anders as botter of ghee)
1 k room
1 k gekapte koljander blare
Meng die jogurt, knofffel, gemmer, paprika, chillie vlokkies, masala, tamatie puree, borrie saam en meng goed voordat dit met die hoender stukke gemeng word. Laat oornag staan in die yskas.
Oond bak: Braai uie in botter tot sag en glansend met 1 t sout. Giet oor die hoender in ʼn kasserol bak en meng weer goed deur. Bak by 150 C vir 2 ure.
Slow cooker: High vir 4 ure
Stoof plaat: baie, baie stadig kook vir 60 min en hou heeltyd dop.
Aan die einde van die kook proses meng die room by en net voor bediening roer die koljander blare by en sprinkel ekstra bo-oor. Sout en peper na smaak.
Bedien met Basmati rys wat gekook is met 3 saffron drade en ster anys peul of ʼn dahl
Bron: Annelien Pienaar geispireer deur Naceema Patel, 2016
Hoeveelheid: 4-6 porsies
Hallo Annelien, as mens wil slow cook hoe maak jy met die res van die bestanddele en is daar dalk iets wat mens in die plek van die tuisgemaakte atchaar masala kan koop ? Dankie x
Hallo Aletha, jy kan enige masala koop en gebruik of kerrie poeier…4 ure op hoog en dan die laaste halfuur souse ens by.