Wanneer mens met die hande soms in die hare sit, gebeur daar wonderlike goed in die kombuis…jy leer uit die boks dink! So op ‘n dag is ek haastig en vergeet van die piesangs in die yskas. Ek het dit reeds op gesny in skywe en wou vinnig vir die kinders Gladde Jantjies / Smoothies maak. My yskas op daardie stadium het alles gevries! So besluit ek toe, maar as ek ys in my smoothies gooi dan kan ek net so wel, piesang wat gevries is op dieselfde wyse verwerk. Daar begin die era van eier-, gluten- en laktose vrye roomys idees vir my gesin.
Hierdie resep se basis is geskoei op piesang en met ‘n paar variasies van ander vrugte en bestanddele kan dit verander word in ongelooflike kleure en geure. Vir my gesin maak ek altyd so ‘n reenboog van kleure en skep die lae sommer so bo-op mekaar in ‘n broodpannetjie en laat dan so vries terwyl ek werk. Kom ons begin…
Begin altyd deur voorbereiding te doen met piesangs. Vir ‘n broodpannetjie van 10 cm x 20 cm x 10 cm hoog het jy vir ongeveer vier lae of kleure 3 piesangs nodig. Dus is dit 12 piesangs in totaal. Sny elke piesang in ongeveer 8 stukke. Plaas die stukke op ‘n silikoon vel op ‘n bakplaat en maak seker die piesangs le in ‘n enkel laag sodat dit nie aan mekaar vas sit as dit later verpak word in ‘n bak. Vries tot klip hard en pak in lugdigte houer. Hierdie resep werk ook perfek vir mango en papaja. Vir mango en papaja sal jy 5 koppies se blokkies moet sny van ongeveer die grootte van ‘n piesang skyfie. Vries soos beskryf.
Vir elke 3 piesangs / 24 stukkies piesang benodig jy 100 ml klappermelk / amandel melk / hawermout melk
200 g aarbeie / frambose / bloubessies / nastergal / 30 ml kakao
Plaas al die bestanddele in ‘n voedselverwerker of blender stok of versapper en verwerk tot glad en romerig.
Skep die mengsel in ‘n pannetjie wat vooraf verkoel was in die vrieskas. Vries dadelik en begin met die volgende laag se roomys. So hou jy aan totdat die pannetjie vol is. Jy kan ook soos in my geval met ‘n verwerker wat 1.8 liter kapasiteit het op een slag net ‘n enkel geur maak. Jy kan ook vir ekstra soetheid per 3 piesangs maple stroop, heuning, molasse stroop, stevia, en ander toelaatbare kunsmatige versoeters gebruik.
Verder kan hierdie mengsel ook as smoothie geniet word maar voeg dan meer van die melk variasie opsies by.
Mag julle sommer heerlik eet.
Bron: Annelien Pienaar, www.annelienpienaar.co.za 2019