Hierdie resep is geskik vir 25 klein appels of 10 groot appels. Enige appel kan gebruik word. Waarskuwing: brand met suikerstroop is baie ernstig en probeer met blou of swart plastiek handskoene werk. As jy brand plaas dadelik jou hand in water….hou ʼn bak eenkant vir voorsorg.
MOENIE, MOENIE, die appels was asb!!! Vee dit net goed af asb. As daar vog in die ente van die appel vas sit sal die appel die volgende dag naak wees en die harde omhulsel sal een poeletjie sous onder in die verpakking wees. Suiker is higroskopies…lief vog en sal die heeltyd vog na homself aantrek en so dus begin oplos…al is die suiker kristalle onsigbaar klein…dit is daar en gaan probleme veroorsaak. Moet ook nie die appels in die yskas stoor of in ʼn kombuis met stoom. Vervaardig die appels en verpak dit in plastiek en hou weg van vog. Moenie die appels maak op ʼn reënerige dag want dit sal ook ʼn probleem wees. Die suiker sal vog uit die lug trek.
25 rooi appels
25 sosatie stokkies
400 g witsuiker
125 ml water
20 ml asyn
100 g glukose stroop
100 g goue stroop
25 ml botter of gliserien
Groen of rooi voedsel kleursel (Moir’s of Robertsons 1/2 bottel per aanmaak)
Gebruik ‘n kleinerige kastrol met deursnit van 20 cm sodat die appels maklik kan doop.
Steek die stokkies diep genoeg 5cm ongeveer in die appel in. Die appel mag dalk van die stokkie glip as jy dit probeer draai. Smeer ʼn bakplaat met olie sodat die klaar gedoopte appels daarop kan afkoel en maklik verwyder kan word.
Plaas al die bestanddele in die kastrol en oor lae hitte begin om die bestanddele te smelt. Die mengsel MAG NIE kook voordat die suiker kristalle opgelos het. Hou ʼn kwassie met water byderhand om die kante van die kastrol skoon te vee tydens hierdie proses. Kyk mooi dat daar nie korreltjies teen die kante van die kastrol kleef. Sodra die proses voltooi is en die suiker mooi opgelos het, verhoog die hitte na medium hoog.
Kook die mengsel tot ligte kraak stadium van 138C met ʼn suiker termometer. Terwyl die stroop kook berei nog ʼn kastrol met kokende water voor waarin die suikerstroop soos ʼn dubbel koker kan hang. In hierdie geval moet die kastrol wel aan die water raak sodat die stroop warm kan bly en nie dik word as die appels gedoop en bedruip word met ʼn lepel. Plaas die appels op die gesmeerde bakplaat en laat goed afkoel. Draai in selfofaan toe en stoor in lugdigte houers.
More
Kan n mens glukose stroop self maak of koop mens dit
Dankie
Hallo Lizette,
Ongelukkig nie, want die ekstraksie prosesse is baie moeilik…Hoop dit gaan nog baie goed daar. Groete annelien