Die geheim van hierdie pragtige konfyt is die feit dat vars en pas ryp geel taaipit perskes gebruik moet word. As die perske te pap en te oud is, sal dit sag kook en die stroop sal troebel voorkom. Hierdie resep vermeerder met gemak, maar moet in gedagte gehou word dat hoe meer vrugte jy kook, hoe langer gaan dit neem om te kook. Moenie die fout maak en dink hoe vinniger jy kook hoe gouer is jy klaar. Dit werk nie so. Goed soos die grootte van die pot het ook ‘n invloed. ‘n Kastrol met ‘n groter area (groot boom) sal vinniger kook omdat die oppervlakte groter is en verdamping van die water dus vinniger plaasvind. Dink so daaraan. Die konfyt verdik net omdat die vog uit kook en die suiker dus meer gekonsentreer raak. Hierdie reels wat ek verduidelik is op alle preservering in bottles van toepassing. ‘n Veilige maatstaf is om die konfyt tot 5 C hoer as kookpunt in jou area te kook. Dan sal die konfyt ook baie goed set. Indien jy nie ‘n thermometer het, kan jy ‘n piering wat in yskas verkoel was neem en bietjie konfyt daarop drup en vir paar sekondes laat staan. As dit ‘n velletjie maak en nie soos water af loop dan is die konfyt gereed.
2 kg geel taaipit perskes
1.5 kg wit suiker
250 ml water
40 ml suurlemoensap
Smeer die boom van ‘n kastrol met olie uit om aanbrand te voorkom.
Halveer die perskes en haal die pit uit. Skil dan die halwes en sny in 3 mm dun repies en plaas in liggies gesoute water. (5 liter water en 1 t sout om verkleuring van vrugte te voorkom).
Skep die vrugte uit die water en in die kastrol. Voeg die water by en plaas die deksel op die kastrol. Kook die vrugte vir 5 minute en voeg die suiker by. Kook stadig en roer liggies totdat die suiker opgelos het.
Verhoog die hitte tot matig vinnig en kook totdat die vruggies deursigtig is en die stroop verdik het. Voeg die suurlemoensap by en laat vir 5 minute afkoel voordat die perskes in gesteriliseerde flesse verpak word.
Draai die bottles goed toe en draai op hul koppe. Onthou dit is nie ‘n ouvrou storie om op die deksels te draai. Die waterdamp wat vorm veroorsaak dat microbes kan groei…en as jy die bottel omdraai sal die suiker in die konfyt die waterdamp opneem om verder op te los. So, die waterdamp versprei dan so eweredig deur die mengsel. Klink nou snaaks, maar suiker al het dit opgelos, bly nog ‘n kristal maar net mikroskopies klein.
Wanneer ons na sterilisering kyk werk ons soos volg. Bottels moet met seep en water gewas word en dan dadelik in ‘n oond van 120 C vir 30 min gehou word. Daarna draai die temp af na 90C en hou die bottles daar totdat dit tyd word vir inskep. Werk in die afwesigheid van water. Want warm glas op ‘n nat vadoek met warm inhoud gaan bars. Draai op hul koppe en laat afkoel. Jy kan later die bottles in ‘n wasbak met water pak en daar laat le vir 30 min en die taai sal self oplos…vee af, merk en pak in die kas. Gebruik ‘n braaitang om die bottles uit die oond te haal en moenie in die binnekante van die deksels of bottles raak anders kan kontaminasie intree.
Bron: Annelien Pienaar, 2018-12-28
Hoeveelheid: 10 x 375 ml botteltjies