Geskenke uit jou koskas is ‘n tema wat ek so 5 jaar gelede begin het en dan elke Desember aanbied. Ons het begin met net 5 persone in die klas en dit het so gegroei dat daar reeds vir die volgende jaar ‘n wag lys is. Vir my is daar niks so lekker om my hartsmense en geliefdes te bederf met so ‘n pakkie opgemaak met tooisels van my siel. My kinders ken die tradisie van gee so goed en hul verwag ook geen geskenke met die Fees seisoen. Vir hulle besef hul die waarde van ‘n mamma en pappa wat hul lief het en ook mekaar lief het. Wat meer kan mens gee as liefde? Is liefde nie die grootste geskenk wat die Vader aan ons toevertrou het? Geniet hierdie reis deur die resepte en deel dit met almal vir wie jy lief is…en ja, gee ook aan ‘n vreemdeling ‘n ietsie en sien die dankbaarheid straal.

Ek begin my fees met ‘n heerlike voorgereggie met vars beet en ‘n balsamiese reduksie…klink indrukwekkend, maar glo my dit is baie maklik om te maak. Klik op hierdie skakel om die resep te besigtig: Rooibosbessie roomkaas Beet met Balsamiese reduksie

Soetkoekie deeg vir klein handjies     

115g Botter of Rama of Stork bake
200g Wit suiker
1 Eier
50ml Melk
5ml Geursel: Karamel, Suurlemoen, Vanielje, Sjokolade, Koffie is heerlike variasies
350g Koekmeel
10ml Bakpoeier
2ml Sout

Metode:
1. My grootste geheim by die maak van koekies en versiersuiker wat baie botter in kry: Rasper die botter as dit te hard is of as jy vergeet het om dit betyds uit te haal. Klits dan die botter eers sonder enige byvoeging tot dit egalig en glad is. Dit neem ongeveer 5 minute om by daardie stap uit te kom. Stop die klitser as die spaantjies verstop raak en die botter gaan vas sit. Krap uit en klits weer.
2. Voeg nou die suiker by en klits die mengsel tot lig geel en donsig. Neem ongeveer 5 minute. Voeg nou die eier, melk en geursel by en klits weer tot lig en donsing.
3. Sif die meel, bakpoeier en sout saam en voeg by die eiermengsel. Roer die mengsel met ‘n houtlepel om ‘n bol te vorm. Druk die deeg liggies aan mekaar met vinger punte en rus die deeg buite die yskas vir 30 minute. Indien dit warm is kan die deeg vir die laaste 10 minute in die yskas geplaas word.
4. Variasies vir uitrol: Verdeel die deeg en kleur dit in twee kontras kleure. Meet ‘n vierkant van ongeveer 20 x 20 cm in die middel stuk bakpapier uit. Vou dan die lyne sodat dit mooi uitstaan. Plaas die deeg in die middel van die vierkant. Druk met jou vingers die deeg effe plat en vou die papier sodat die deeg nou in ‘n koevertjie toe gevou is. Neem ‘n rol stok en rol die deeg sodat dit binne in die vierkant versprei. So verseker jy dat die deeg egalig gerol word. Neem die tweede stuk deeg en doen dieselfde.
5. Vou beide degies oop en sonder om dit van die papier te verwyder plaas dan die oop kante bo-op mekaar. Met die bakpapier nog in plek rol die deeg om 5mm dik te wees. Trek dan die boonste laag papier af en rol dan die twee lae saam op soos ‘n rolkoek. Rol mooi toe in die onderste bakpapier en plaas vir 1 uur lank in die vrieskas. Daarna sny die deeg in 5mm wieletjies om die spirale te wys.
Plaas die koekies ongeveer twee vinger spasies uitmekaar op ‘n gesmeerde bakplaat en bak vir 8-10 minute by 180℃.

Variasies:
1. Sjokolade koekies: 60ml Kakao plus 100g Sjokolade splinters by stap 3.
2. Klapper koekies: 60ml Klapper en amandel geursel by stap 3.
3. Lemoenkoekies: 15ml Suurlemoenskil en vervang melk met suurlemoensap en voeg by stap3.
4. Milo of Hot choloate koekies: 60ml by stap 3.
5. Spesery koekies: 2.5ml Kaneel, 1ml Gemmer, 1ml Neutmuskaat en 100g fyn pekans by stap 3.
6. Marmer koekies: deel deeg op in hoeveeheid kleure verlang. Voeg kleursel by en meng goed deur. Lamineer na gelang van keuse. Hoeveelheid: 50

Kaaskoek
600 g Roomkaas
500 g Gegeurde yoghurt van keuse
40 ml Suurlemoensap
400 g Strooisuiker
60 ml Gelatien poeier
250 ml Kook water
500 ml Room, styf geklits
¼ konfyt van keuse

Metode:
1. Meng die roomkaas, yoghurt, suurlemoensap en suiker saam tot die mengsel mooi egalig is.
2. Sprinkel die gelatien poeier in die kookwater en roer totdat dit goed opgelos het. As dit nie oplos nie, plaas die bakkie weer in kookwater totdat die mengsel soos stroop lyk en geen spikkels wys nie. Laat die mengsel tot kamertemperatuur afkoel.
3. Klits die gelatien by die roomkaas mengsel in. Vou geklopte room in deur ‘n ballon klitser te gebruik om die takie maklik en vinnig af te rond. Vir marmer effek in kaaskoek: skep paar telepels donker bessie kontyt op die beslag en roer twee draaie in figuur 8 beweging en skep uit. As jy te veel roer trou die kleure.
4. Skep vulsel in vorm van ongeveer 20-25 cm deursnit en 10 cm diep. Laat oornag stol of minimum 4 ure voordat ontvorm. Versier met vars bessies of coulis van bessies.

Glacage of Morror glaze
17 g poeier gelatien gespons oor 102 gr water vir 10 min, hou eenkant

150 g water
300 g wit suiker
300 g glukose stroop
200 g room
300 g goeie kwaliteit couveture melk sjokolade soos Lindt of Callebaut, wit sjokolade

Kook hierdie 4 bestanddele saam tot 103 ℃. Onthou die mengsel sal soos kondensmelk begin lyk.

Giet die mengsel op die sjokolade splinters. Onthou as jy wit sjokolade wil kleur moet jy: vetoplosbare kleursel gebruik. In SA is daar Rolkem en ook Cake Flora se poeiers wat jy met bietjie kookolie aanmaak. Meng dan by sjokolade om te kleur. Net ‘n interessantheid rakende poeier kleursel: gee asb kans sodat die poeier kan ontwikkel in die beslag. Mens besef nie dat die pigementjies in die kleursel soos klein kapsuletjies werk, elke capsule breek oop om die kleure vry te stel. Diegene wat dit al oor gekom het dat jy bly poeier byvoeg om die regte kleur te kry, het al gevind dat die versiersel die volgende dag baie donderder geword het. Wees dus net effe versigtig veral met Rolkem se gekonsentreerde kleure, die reenboog kleure van Rolkem is nie so sterk en sal nie kleur so drasties verander met verloop van tyd. Hoop hierdie verduideliking maak sin.

Moenie kommer as die mengsel nie reg lyk, hou aan roer totdat die mengsel egalig raak. ‘n Whisk werk perfek vir hierdie werk.

Wanneer die sjokolade opgelos is, voeg die gelatine by. Die mengsel is gewoonlik nog warm genoeg om die gesponsde gelatien te smelt, maar jy sal self sien as die mengsel nie glad is dan kan jy weer effens verhit deur ‘n dubbelkoker te vorm met warm water.

Druk ‘n “stickblender” in en meng goed. Ek laat dit 24 uur rus voor gebruik, en maak dit weer warm in kort “bursts” van krag in die mikrogolf. Werk op min of meer 35 C wat die mengsel moet meet. Plaas wat jy ook al wil bedek op n draad rakkie en giet dan van die buite rand in ‘n spiraal na die middel en dan weer ‘n spiraal na buite. Indien die mengsel klein borreltjies bevat, giet dit deur ‘n siffie oor die items wat jy wil bedek. Onthou dat koeke wat jy wil bedek altyd baie koud moet wees. Vir gewone koeke moet jy die koeke eers ‘n “crumb coating” gee. Hierdie crumb coating word gedoen deur die koek wat afgekoel het in die vrieskas te sit vir ‘n uur. Kook dan ‘n halwe koppie water met ‘n halwe koppie suiker vir 10 minute en hou in ‘n water spuitbottel. Haal die koek uit en spuit oral met die mengsel. Plaas terug in vrieskas vir 1 uur lank. Haal uit en smeer ‘n baie dun eerste lagie botter of Italiaanse botter versiersel oor…moenie kommer die koek mag dalk nou soos ‘n half gepleisterde muur lyk…los weer vir ‘n uur en smeer die laaste laag versiersel en laat dan hard vries. Sodra hard, giet dan die glans versier sel oor. Vir Kaaskoeke moet die kaas koeke hard gevries wees in die vormpies. Ontvorm en giet die glans versiersel dadelik. So ook vir mousse koeke.

Vir kreatiewe marmer effekte kan die basis kleur soos bv wit eers gegiet word en daarna kan die ander kleure in strep op gegiet word. Draai die koek dan dwars en trek ‘n palletmes dwars oor die koek, om die strepe sagter te maak.

Onthou: Alle koeke moet gevries wees as dit bedek word met die glans laag…anders mag koeke soos kaaskoek begin smelt as die glanslaag dalk te warm is.

Ekstrakte
Hierdie ekstrakte word soos die van ouds gebruik in alles van koeke, soet vulsels, drankies en vele meer.

1 liter Vodka, geurloos
250 g bessies of koffiebone of 20 vanielje peule

Voeg die geurmiddels in ‘n fles en bedek met vodka. Laat staan vir 3 weke tot 6 weke om te infuse. Daarna kan dit gebruik word om in gebak, souse ens gebruik te word.

Marinade
Onthou dat die marinade af gevee kan wor die tyd indien jy nie van die suiwel hou. Onthou egter dat die suiwel gou-gou korte mete maak met taai vleis. Die bakterie in die suiwel breek die bindweefsel af en veroorsaak dat die vleis sag word. Verder kan jy ook so sosaties maak en die vleis met die sous vries. Geld ook vir minute steaks.

2 e fenegriek
1 t knoffel
1 t gerookte paprika
50 ml bruinsuiker
250 ml plain yoghurt
250 ml karringmelk
100 ml suurlemoensap

Meng alles saam en hou in die yskas en gebruik soos nodig. Geskik vir skaapvleis. Fenengriek kan vervang word met geursel van keuse.

Lewer 600 ml marinade.

Gegeurde sout
500 g medium growwe sout
5 e gerookte paprika
5 e parmasaan kaas
5 e uie poeier
5 e knoffel vlokkies gedroog
3 e dill tippies
2 t rysmeel (voorkom dat sout klonte vorm)
2 e gedroogde naartjie skil (droog die naartjie skil of sitrus skil in die mikro golf deur dit op lagies absorbeer papier te plaas en dan vir 5 minute te draai. Haal uit en laat afkoel. Seel dan in ‘n lugdigte houer.

Meng al die bestanddele saam en giet in grinders.

Soet speserye
Hierdie mengsel is geskik om in soet groente bereiding te gebruik of koek soos wortel, sjokolade, muffins en ook vrugtekoek.

7 e kaneel
1 e neutmuskaat
1 e gemmer poeier

Meng saam en gebruik soos nodig.

Badsout vir moeë voete en ‘n seer lyf
500 g engelse sout / Epsom salt
10 druppels peperment olie (Dischem)
5 e vars gekapte roosmaryn
¼ k olyfolie

Meng die peperment olie druppels met olyfolie en roosmaryn en giet en meng deur in die engelse sout. Skep in mooi glas flessies en gebruik 4 e in voetbad met sterk warm water. Week die voete vir 30 minute en vee af…Indien jou lyf seer is kan jy ‘n kwart koppie van hierdie mengsel in jou bad water voeg.

Hierdie is my Kersfees bederf aan my geliefdes en ook my lesers. Mag die nuwe jaar vir ieder en elk vol seën wees.

BKT groete Annelien Pienaar, 2018