Wanneer die kersie seisoen aanbreek weet ek ook dat Kersfees naby is en tyd vir kersiekonfyt kook vir tert en koekie vulsels…om nie eens te praat van so ietsie met skop daarby!
Kies kersies wat uitgeswel en vars is. Geen verlepte of verfrummelde bessies. Laat die bessies in koeksoda water week. Maak ‘n oplossing van 5 liter water en 55 ml koeksoda aan en laat die bessies vir 6 ure in die water week. Daarna word die bessies af gespoel en die pitte uit gehaal.
Wenk: oormaat kersies kan deur die bg proses gaan en dan met helfte van die suiker in die resep bevries word.
Verhouding: 500 g kersies : 500 g suiker : 250 g water : 1 t pektien : 1/8 t sitroensuur of wynsteensuur : 100g Gin
Nadat die bessies versorg is en ontpit is meng die suiker en pektien saam. Plaas die water en suiker in ‘n kastrol en verhit oor matige hitte totdat die suiker opgelos het. Dit is krities in hierdie resep dat die kante van die kastrol met ‘n kwassie en water skoon gevee word om kristal vorming tee te werk in die voltooide produk. Dit is ook verder belangrik dat die suiker en water nog nie kook voordat al die suiker nie opgelos het. Sodra die suiker opgelos het kook die mengsel vir 5 minute en voeg die kersies bietjie vir bietjie by sodat die stroop nie ophou kook nie.
Kook dan die mengsel oor matige hitte todat die mengsel verdik en met die helfte weg gekook het. Tyd kan nie gekoppel word want die kookpunt van land tot land verskil. Hou ook ingedagte om ‘n kastrol te gebruik soos ‘n pasta pot met lang reguit kante en kleiner opening sodat vog nie te vinnig verdamp anders word die konfyt baie taai.
Sodra die konfyt gereed is voeg die sitroensuur by en roer goed deur. Haal konfyt van die plaat af en voeg die gin by en roer goed deur.
Skep die konfyt in warm gesteriliseerde konfyt flesse. Draai die botteltjies op die proppe en laat so afkoel. Die konfyt is eers na 7 dae gereed vir proe.
Bron: Annelien Pienaar, 2018, Preserverings klas