Hierdie resep is ook geskik vir mandarin konfyt. Die resep is nog ‘n tradisionele resep uit my moeder se skatkis van preservering resepte. Sy het alles wat op die plaas gegroei het in die tuine in ‘n bottel gesit. Na haar afsterwe het ek ‘n bottel 4 jaar later met Kumkwats oop gemaak en dit was perfek. Haar verhouding suiker tot vrug en sterilisasie prosesse het hierdie verlangde raklewe verseker. Onthou dat suiker, asyn en sout in bottelerings resepte ‘n preserverings doel het en moenie sommer verminder word omdat jy kostes wil bespaar of minder suiker wil in neem. Nee, dit is ten doel om ‘n produk sonder enige chemiese middels te preserveer. Dink mooi daaraan…
Ek werk met kliente wat altyd ‘n sent of wat wil spaar. Of dit nou in die suiwel of inmaak bedryf is…suiker is baie duur. Daarom kry jy suiker vervangers wat tot so sterk as 6 keer die sterkte van suiker is. Maar met dit saam moet daar dan chemiese preserveermiddels bygevoeg word om die raklewe van produkte te verleng. Alles hang ook af van die toerusting wat gebruik word. Indien ‘n canner sisteem gebruik word is die preserveermiddels nie nodig…maar dit word in elk geval bygevoeg omdat die klient na die tyd, wanneer die bottel oopgemaak is…ook ‘n langer raklewe wil kry. Dus, dit is die hoender eier situasie. Ek kook eerder maar my eie konfyt en geniet dit met oordeel as om iets met preserveermiddels te neem. Kom ons begin.
Sag maak van kumkwats
1-2 kg vruggies
5 liter kookwater
150 ml koeksoda
Prik die vruggies met stopnaald wat in ‘n kurkprop monteer is. Vurke maak lelike merke. Steek so 5 gaatjies per vruggie.
Kook die water en haal van stoof. Voeg die koeksoda by en dompel die vruggies in die water en laat so staan om goed af te koel in die koeksoda water. Dreineer baie goed sodra gereed.
Sny nou kruisies op die onder punt van elke vruggie. Hier is nou jou besluit of jy met of sonder pitte wil wees. Ek hou daarvan om die pitte te behou omrede die pitte baie pektien bevat. As jy dit uithaal gaan jy ‘n konfyt kry waarvan die stroop meer loperige as jellierig gaan wees. Indien jy wel die pitte wil verwyder: rol die kumkwat baie saggies tussen jou vingers en manipuleer die pitte so uit. Jy sal gou voel of daar ‘n pit is of nie.
Plaas die vruggies in ‘n pot kokende water van ongeveer 5 liter. Kook die vruggies totdat ‘n vuurhoutjie se agterkant deur kan steek. Wees baie versigtig om die vruggies nie pap te kook. So 15-20 min sal genoeg wees…maar eie oordeel is hier belangrik met die vuurhoutjie toets. Dreineer goed.
Stroop
2.5 kg witsuiker
2 kg kumkwats
4.5 liter water
1 ster anys peul of 1 kaneel stokkie
Plaas die water in ‘n 10 liter kastrol en voeg die witsuiker by. Roer oor medium hitte hierdie mengsel tot dat al die suiker opgelos het. Onthou die mengsel mag nie kook voordat al die suiker gesmelt het. Was ook die kante van die kastrol af met ‘n kwassie wat in water gedoop is.
Sodra die stroop deursigtig is en kristalle opgelos het kook dit dan op hoë hitte vir 5 minute en voeg dan die vruggies by die kokende stroop in klein hoeveelhede sonder dat die mengsel ophou kook. Wees met hierdie proses baie geduldig. Dit verseker ‘n plomp uitgeswole vruggie aan die einde.
Kook dan die mengsel oor matige hitte totdat die vrugte helder en amper deursigtig word. Die stroop gaan verdik en skep van tyd tot tyd uit en toets op ‘n koue piering of die jellie vorm. Jy kan ook mbv ‘n suiker thermometer die temperatuur van die konfyt toets tot dit 105 ℃ bereik het.
Maak seker die bottels is gewas en by 120 C vir 30 minute gehou en dan verlaag na 90 C sodoende dan die vruggies in die warm bottels te skep. Sodra die vruggies gereed is kan jy die plaat afskakel en laat rus vir 5 minute voor jy begin bottelleer. Draai die bottels op hul koppe en laat so afkoel. Lees die artikel oor hoekom die bottels omgedraai moet word: https://annelienpienaar.co.za/2017/05/02/whisky-marmelade/
Bron: Annelien Pienaar, 2011
Als volgens resep gedoen… stroop word nie dikker nie. Kumkwats kook al ‘n uur in die stroop. Is 4.5 liter water reg?
Hallo Arina, maak altyd seker om met ‘n platter en groter en wyer kastrol te kook sodat die groter oppervlakte bydra tot vinnige vog verdamping tov die tyd wat gekook word. As dit gebeur, hou net langer aan met kook. Groete Annelien