Skilferkors is een van my gunsteling deegsoorte om te berei vir soet en sout gebak. Mense skram weg om die deeg te maak agv ou praktyke wat die lewe moeilik gemaak het. Lees asb deur elke woord wat ek nou hier skryf voordat jy wegspring om die deeg aan te maak.

Die geheim van enige deeg is die feit dat die bestanddele so koud as moontlik gebruik moet word. Ek werk nooit in die somer in die middel van die dag met deeg nie. Ek sal eerder vroeg oggend of laatnag deeg aanmaak. Behalwe as jou kombuis met ‘n lugversorger toegerus is, dan kan jy enige tyd van die dag werk. Ek het ongelukkig nie daardie luukse nie en moet maar my tye mooi uitwerk.

Die tegniek vir hierdie resep vereis botter wat vooraf gevries is. Jy kan ook ‘n goeie kwaliteit bakkersmargarien soos Rama of Stork bake gebruik. Rasper die botter in hopies van drie op ‘n bakplaat. So sal die botter baie makliker rasper en nie vasklou aan alles. Terwyl jy rasper druk die botter in die Stof wat jy aanmaak…so keer dit dat die botter in jou hande smelt en die rasper nie aanpak. Hierdie botter sal dalk begin sag word, plaas dan net terug in yskas, terwyl jy die deeg aanmaak.

Foto: Klik op die volgende skakel vir die tert resep: Vinnige Melktert vulsel 

Deeg
500 g koekmeel
3 g / 5ml sout
50 g yskoue botter, gerasper
280 ml/g yskoue water
15 ml suurlemoensap of brandewyn
2 eiergele
450 g yskoue botter in drie dele verdeel, (indien direk uit vrieskas…perfek), rasper en sprinkel met stof resep om dele los te hou…hou hopies apart

Stof vir gerasperde botter en uitrol werk
10 ml kremetart
250 ml koekmeel vir die kremetart

Sif die koekmeel en sout saam en vryf die 50 g koue botter in die meel in of gebruik ‘n voedselverwerker totdat die mengsel soos broodkrummels lyk.

Maak ‘n holte in die meel en voeg die water, eiergele, suurlemoensap by en werk die deeg sodat dit bymekaar kom.

Knie die deeg liggies, druk in reghoek in ‘n sakkie en los vir 15 minute binne in die yskas op ‘n koue bakplaat.

Rol die deeg uit in ‘n reghoek van 30 cm by 40 cm op ‘n meel bestrooide oppervlakte.

Sif die koekmeel en kremetart saam, plaas in ‘n plat groot bord en hou eenkant.

Deel die blok botter nou in 150 g porsies…jy moet drie uit kry. Rasper dit deur so nou en dan in die meelmengsel te doop sodat die botter nie aanpak nie. Deel die deeg met jou oog in derdes. Sprinkel een van die hopies koue botter oor die middelste derde van die deeg…onthou dit is belangrik om nie kleiner as die middelste derde die botter te versprei. Gaan eerder ‘n bietjie wyer as smaller.

Vou die deeg in ‘n derde oor mekaar en dan die volgende flap oor sodat jy drie voue van die kant sien. Draai die deeg om en rol weer 30 x 40 cm uit en herhaal die rasper en vou proses vir nog 2 keer. Met rondte nommer drie, rol die deeg net effens en plaas op bakplaat bedek met bakkerpapier en verkoel vir tenminste ‘n uur of oor nag in die yskas.

Gebruik deeg soos voorgeskryf in resepte.

Foto se melktert metode vir korsbereiding: Rol deeg 5 mm dik uit en meet om in tert bak te pas. Sny en vou versigtig sonder om te trek aan die deeg in die bak in. Daarna plaas bakpapier met bone op die papier in die basis van die bak. Bak in voorverhitte oond van 200C vir 10 minute. Haal die bone van die bodem af. Bak die tert kors tot gaar vir nog 10 min by 180C. Laat goed afkoel en vul met gaar Melktert pap.

Wenk: Alle deeg soorte k, finaal uitgerol word en opgerol word met waspapier tussen die lae en so gevries word vir latere gebruik.

Bron: Annelien Pienaar, Pastry klas 101, 2018

Hoeveelheid: 1 kg se pastei deeg. Maak ongeveer 12 groot hand pasteie en twee groot 30 cm melkterte se basisse