
Photo by: Annelien Pienaar Food Consultant (www.annelienpienaar.co.za)
Hierdie Asyn is meer soos ‘n gefermenteerde stroop geskik vir slaaisouse, marinades, roomys en ook ‘n verkwikkende drankie saam met sodawater bedien en gekapte ys en mentblare. Enige ander bessie soort soos aarbeie, moerbeie, bloubessies en vele meer kan gebruik word…selfs al appelliefies gebruik en dit was heerlik!
500 g frambose, fyn gedruk
1 liter wit wyn of druiwe asyn
400 g witsuiker
Plaas die frambose in ‘n glasbottel groot genoeg om 2 liter inhoud te hou. Giet die asyn oor en laat vir 7 dae staan by kamertemperatuur in donker plek.
Hier kom die kruks van die saak. Die helderheid van die sap word bepaal deur die dreinerings tegniek wat gebruik word. So, lees noukeurig en moenie afwyk van die proses.
Voer ‘n vergittes (kolander) uit met ‘n dubbel laag kaasdoek. Indien jy nie kaasdoek het sal enige gaserige materiaal werk. Selfs ‘n baie ou en dun kussingsloop of laken. Hang die uitgevoerde vergittes oor ‘n vlekvrye staal kastrol of ‘n glasbak. Laat die inhoud oornag deur drup.
MOENIE die lap uit draai om ekstra vog uit te kry…dit is hier waar die wolkerigheid gaan inkom…gooi weg!
Verhit die framboos asyn en voeg die suiker by, roer tot opgelos en kook dan vir 25 minute op vinnige hitte om in te damp. Bottel warm in gesteriliseerde glas flesse. Raklewe 12 maande.
Hoeveelheid: 750 ml
Bron: Annelien Pienaar
So maklik soos dit! Ek koop beslis Saterdag aarbeie. Baie dankie Annelien.
Geniet dit Roland. Groete Annelien
Annelien, ek wil nie krap nie, vra net of ek bevrore vrugte sou kon gebruik.🌹
Hallo Sonja, ja jy kan bevrore vrugte gebruik. Moenie die vog dreineer nie want dan gaan al die nutriente asook smaak verlore. Groete Annelien
My volgende projek … Gaan wyn en asyn probeer.. ek het laas frambozen balsamico gesien …. Dink dit is ook Lekker
Hoop jy kom spog op FB met die lekker brouseltjies. Groete in Nederland!