
Maalvleis is en bly een van Suid-Afrika se rand-rekker vleissoorte. “Meat loaf” is een van my gesin se gunsteling geregte op die tafel en ek maak dit gereeld met ‘n variasie van kinkels soos ek “moeg” raak vir die geykte resep van my. Ek het ‘n tuin vol vars origanum gehad en ipv spinasie, die blare net in kokende water gedoop, van die takkie gestroop en fyn gekap vir die vulsel. Die origanum het net eenvoudig die maalvleis rol nuwe dimensie gegee met kleure en geure. Die rol is heerlik sappig en verder maak die oorskiet vleis die perfekte toebroodjie vulsels!
Maalvleis rol
1 kg maer maalvleis
3 snye bruinbrood geweek in 125 ml melk, fyn gedruk
3 jumbo eiers
¼ k blatjang
2 e woestersous
1 t fyn gedrukte knoffel
2 e groente sout
85 cm foelie
Voorverhit oond na 170 ℃ en haal ‘n bakplaat uit. Dit is nie nodig om die bakplaat voor te berei nie.
Voeg al die bestanddele saam en meng baie liggies met vurke totdat die mengsel eenvormig vertoon. Hierdie is ‘n kritiese deel van die rol. Jy wil nie die vleis oorwerk om met die hand te meng, want dan kry jy ‘n droë vleis.
Laat die mengsel vir 30 minute rus terwyl jy die vulsel voorberei.
Neem ‘n lang stuk foelie van ongeveer 85 cm en plaas op werksoppervlakte, blink kant na bo. Plaas die maalvleis in die middel van die foelie en rol ongeveer 30 cm x 40 cm uit.
Skep dan die spinasie vulsel op en rol die vleis op deur die kante van die foelie van die breedste deel op te lig en die rand liggies oor te vou. Hou aan rol tot op die einde. Vou die foelie styf rondom die vleis en druk die punte toe. Plaas versigting sonder om te knak in die bakplaat.
Bak vir 2 ure by 170 ℃, maak die vleis oop om dan te verbruin deur balsamiese reduksie stropie oor te verf en rooster vir 10 minute tot bruin.
Spinasie en origanum puree
1 k spinasie puree
½ k vars origanum blare of vervang met spinasie
2 k cheddar kaas gerasper
Sout en peper na smaak
Meng al die bestanddele saam en hou eenkant.
Wenk: Wanneer jy met vars spinasie werk: Strook blare van die steel af en sny die ekstra wit are uit. Plaas in kokende water vir 1-2 minute tot sag. Plaas in yswater om die kook proses te stop. Skep uit en dreineer. Maak bondeltjies en druk al die water uit. Sny die bondels kruis en dwars in 4 dele om die stringe te breek. Plaas in voedselverwerker en maak baie fyn. As jy dit bondels nie deur sny nie, gaan daar ‘n draderigheid wees.
Bron: Annelien Pienaar, 2018
Hoeveelheid: 8-12 porsies
O wee, die vleis het aan die foelie vas gesit! Maar ek gaan dit in puff pastry toe maak en bak soos ‘n beef wellington.
Hallo, jong net goed olie…maar die Beef Wellingtons klink ongelooflik lekker. Hoop jy kom spog op die BKT faceboek blad. Groete Annelien