
Botterskorsies (Butternut) is ’n veelsydige groente en vir my van onskatbare waarde. Vir slaaie is die natuurlike soetheid van botterskorsies met ’n droë hitte gaarmaakmetode die perfekte manier om dit navore te bring. Dan ook al die nutriënte wat behoue bly is nog ’n verdere plus punt. Kom ons begin.
6 k botterskorsie blokkies van ongeveer 3cm x 3cm met skil
¼ k olyfolie
¼ t kaneel
¼ t sout
Plaas die botterskorsie blokkies in ’n plastiek sakkie. Giet die olyfolie oor en sprinkel dan die kaneel en sout oor en vryf goed deur. Gooi blokkies uit in oondskottel en bedek en bak by 180 ℃ vir 30 minute, maak oop en bak dan verder vir 15 minute om taai en bruin te word. Haal uit en laat afkoel.
¼ k balsamiese asyn
3 e heuning
¼ t knoffel
3 feta ringe, blokkies gesny
1 t dill tippies (Cape Herb ‘n Spice)
Hand vol roket of basilie kruid blare opgeskeur vir garnering
100 g (1 k) geroosterde pekans
Marineer die feta in balsamiese asyn, heuning, knoffel met dill tippies vir ongeveer 1 uur. Dreineer, hou balsamiese sous vir later om oor slaai net voor bediening te sprinkel. Meng die feta met die botterskorsie. Garneer met blare en neute.
Hierdie slaai is geskik om voor die tyd gemaak te word.
Bron: Annelien Pienaar, 2017
Hoeveelheid: 4-6 porsies
Wow. Baie dankie. My mond kwyl van pure lekker kry soos ek die resep gelees het. Kan net indink hoe gaan heerlik dit gaan proe.
Geniet hoor! Groete Annelien
Ek is so opgewonde oor die resep. Hier is ‘n restaurant wat ‘n soortgelyke slaai maak en ek het al soveel keer probeer om dit na te maak, maar tevergeefs. Hierdie resep lyk soos die einste een indien nie beter nie. 🙂