My Filistyne geniet die groot bederf as daar besluit word dit is potjie dag. Vir hierdie ete het ek nie genoeg skaap skenkel en nek gehad nie en toe bietjie wild skenkels bygesit. Die manne het behoorlik gekoer oor hierdie Skenkel pot. Vir Vadersdag was my keuse vir bykos gewees heerlike Witbrood deeg waarvan ek een helfte van die deeg mee brood gebak het en die ander helfte vetkoek. My persoonlike gunsteling: Vetkoek met ‘n gaatjie en die sous en sagte vleis en groente ingeskep…ek eet vir myself boepens, want dit word afgerond met stroop. Manlief is natuurlik lief om die brood eenkant te bedien om die sousie mee op te slurp. Hoe dit ook al sy, potjie is koning in die Pienaar kamp.

Nota: Om ‘n volledige ete saam te slaan klik op die skakels om die resepte vir witbrood deeg te vind asook hoe om die Brood varkie van Eureka Mills te gebruik.

Bykos idees: Soetpatat gebak in foelie oor die kole bedien met botter en bruinsuiker vir soetgroente.

1.5 kg Skenkel en Nek vleis
½ k olyfolie
5 e botter
3 medium uie, ringe gesny
500 g knopies sampioene, skoon gevee en stingels verwyder
5 seldery stingels, fyn gesnipper
3 e knoffel
2 liter water
2 aftreksel blokkies van keuse
1 pak potjiekos groente
3 takkies vars roosmaryn, gekap of 4 e gedroog
2 e mielieblom
2 e koekmeel
250 mℓ klapper room of klappermelk of gewone room
250 mℓ litjie sap
2 e masala mengsel

Braai uie, sampioene en seldery met olyfolie en botter tot glansend en skep uit. Braai die vleis in klein hoeveelhede in die potjie tot mooi bruin, skep uit en verbruin die vleis tot alles gedoen is. Voeg die uie mengsel, 1 liter water en aftreksel blokkies by en kook die vleis tot amper sag vir ongeveer 1 ½ uur. Vul die water deurgaans sodat die vleis nie kan aanbrand nie.

Sodra vleis begin lyk of dit sag word en van bene wil los kom, voeg die groente by in egalige laag bo-op die vleis. Kook tot amper sag en maak die verdikkings middels aan.

Meng roosmaryn, mielieblom, koekmeel, litjie sap, klappermelk en masala saam. Klits goed deur met draad klitser om klonte te verwyder. Voeg by die kokende massa en met die houtlepel druk en lig jy die vleis versigtig van die kante van die kastrol om te help dat die room mooi deur vloei. Haal pot van kole en rus vir 15 minute om te verdik en souse te vorm.

Geniet!

Bron: Annelien Pienaar, 2017
Hoeveelheid: 8 persone