
Hierdie sjokolade smeer het meer as een variasie. Jy kan besluit hoe luuks jy wil gaan met die sjokolade. Iemand op die Boerekos met ‘n Twist groep het gevra vir ’n Nutella resep en hierdie was ’n variasie op laas genoemde. Ongelukkig is die neute pasta skaars soos hoendertande in Suid-Afrika. Ek wou opsluit daardie aand sjokolade smeer op pannekoek en plaatkoekies proe.
Indien jy die karamel opsie doen smelt die karamel eers vooraf en klits die klonte mooi uit. Die karamel gee meer ‘n souterig smaak aan die sjokolade wat dit nie so soet maak soos die kondensmelk nie. Dus, het jy nou twee opsies hoe soet jy wil gaan.
250 g Belgiese sjokolade (kan met ander sjokolade vervang word)
250 g Botter (ongelukkig moet dit botter wees anders kry jy klonte)
1 blikkie kondensmelk of karamel
1 t vanieljegeursel of rum geursel
Kap sjokolade effens en plaas in dubbelkoker om te smelt. Sodra dit gesmelt is roer die botter by totdat dit glad is. Roer dan die kondensmelk of gesmelte karamel by asook geursel van keuse.
Skep in gesteriliseerde fles en hou lugdig. Die produk bly goed sonder om in die yskas gestoor te word vir 6 weke.
Geniet sommer lepels vol op en alles!
Bron: Annelien Pienaar, Boerekos met ‘n Twist kookboek, 2017
Hoeveelheid: 500ml ongeveer
Ek koop nooit weer sjokoladesmeer nie. Hierdie is net miljoen keer beter!
Ek wil graag my kinders sade ingee. Gaan dit werk as ek die smeer maak en klomp sade en dalk neute deurgooi en laat hard word in die yskas? Ek dink aan n truffel idee maar vol sade.
Elise, ek dink dit gaan redelik goed werk. Laat weet hoe dit uit gekom het. Groete Annelien