Aartappel en bloukaas pakkies

Aartappel en bloukaas pakkies

Oorskiet kapokaartappels ,jou lekker ding! Hierdie gereg het ons op ‘n keer as kampkos geniet en later het die resep sy pad na die kombuistafel gevind. Dit is bietjie afgerond en vandag kan die kinders nie genoeg kry nie. Wat die gereg so veelsydig maak is die feit dat dit ongebak bevies kan word en dan direk in die oond gebak word, soos wat jy nodig sou kry. Die vulsel kan gegeur word met ‘n variasie van kase tot vleis soos spek en fyn kaiings. Nou oortuig jy moet hierdie pakkies op die proe(f) stel?

6 medium groot aartappels
1 t vars fyn gedrukte knoffel
½ k room
½ k bloukaas gekrummel of (gorgonzola is heerlik) of feta
4 e gedroogde tiemie blaartjies
4 e botter, gesmelt
1 t mosterd poeier
¼ k olyfolie
3 eiers
Sout en peper na smaak
1 k broodkrummels in diep sop bakkie
ekstra olyfolie
2 k gerasperde cheddar

Kook die aartappels in gesoute water tot sag. Skep in yswater sodat die skilletjie makliker los kom en koel goed af. Skil en plaas eenkant.

Druk die aartappels met een druk van die handpalm stukkend. Die aartappel moet nie fyngemaak word nie, maar klonterig wees. Verwerk al die aartappels so.

Roer dan by die aartappel: room, bloukaas, tiemie, botter, mosterdpoeier en olyfolie. Meng deeglik deur.

Neem ‘n ronde koek vormpie en smeer met die ekstra olyfolie en doop in sop bakkie gevul met broodkrummels. Plaas dan die vormpie op ‘n gesmeerde bakplaat en skep genoeg vulsel in die ring en maak bo gelyk. Trek die vormpie versigtig af. Voltooi die res van die beslag deur elke keer die ringetjie met broodkrummels in die binnekant te bedek. Dit help die beslag ferm bly en kant regop hou.

By hierdie stap kan jy die pakkies vries of afrond vir bak. Verdeel die kaas tussen die aantal hopies aartappel wat jy het. Sprinkel daarna die oorblywende broodkrummels oor.

Bak die pakkies vir 35 minute by 180℃.

Bedien warm met soetrissie sous of knoffelroom sous.

Bron: Annelien Pienaar, Boerekos met ‘’n Twist kookboek, 2017
Hoeveelheid: 12 pakkies van 7 cm deursnit en 4 cm hoog.

 

Print Friendly, PDF & Email
2017-09-01T06:19:18+00:00 0 Comments

Leave A Comment