
Nog een vrieskas vriendelike bêre ete vir ‘n besige gesin. Die resep is so ontwikkel om vir die besige gesin gesonde kos op die tafel te sit binne ‘n kits van begin tot einde. Die tamatiesmoor sousie kan ook gebottel of gevries word vir ander geurige disse soos pasta en meer. Vries die ongebakte frikkadelle met sous en plaas bevrore in koel oond wat geskakel is op 180 C en bak vir 60 minute. Hoop jou gesin geniet die kospotte van Kanaan.
1 kg bees maalvleis
250 g fyn gekapte kool of vervang met grof gerasperde aartappel
4 eiers
3 snye brood
250 ml kook water
1 t knoffel fyn gedruk
1 ui, fyngekap
Voorverhit oond na 180 ℃ en smeer ‘n oondvaste skottel met olie.
Giet kook water oor brood en laat sag word. Meng al die bestanddele saam deur met twee vurke liggies te meng. Moenie die mengsel “knie” soos deeg nie, die frikkadelle se tekstuur word dan te dig en hard. Die vleis moet los wees.
Maak ongeveer 100 g balletjies en pak in oondvaste skottel. Bak bedek vir 30 minute. Maak oop en voeg tamatiesous oor en bak nog 15 minute on bedek. Bedien warm.
Tamatiesous
500 g tamaties, blansjeer, skille verwyder
1 groot ui, gekap
3 seldery stingels
50 ml olyf olie
125 ml asyn
125 ml witsuiker
½ t kerrie poeier
½ t mosterd poeier
1 e mielieblom
50 ml water
Sout en peper na smaak
5 Basilie kruid blare, fyn gesnipper
Braai ui en seldery stingels in olyfolie tot glansend. Voeg die gekapte tamaties, asyn, suiker, kerrie, mosterd by en kook vir 15 minute tot tamaties sag is. Meng mielieblom met water en voeg by die kokende tamaties. Kook vir 5 minute tot verdik. Sout en peper na smaak. Giet oor frikkadelle en bak verder vir 15 minute.
Ekstra sous kan gevries word of in yskas gehou word vir pasta ens.
Bron: Annelien Pienaar, Pasta klas 2015, boerekostwist@gmail.com
Hoeveelheid: 6-8 porsies
Ek wil graag frikkadelle maak. My man kan nie kool eet nie is daar iets anders wat ek i.p.v kool kan gebruik. Geniet jou blad baie .
Jy kan met liefde die kool vervang met gerasperde aartappel. Groete Anneien
Ek het vandag na vele oorweging jou frikkadelle aangepak. …..
Eers as pasgetroude ( 13 jr gelede) het ek bakstene ( frikkadelle)vir hom uitgebroei – manlief het dit maar ingewurg.
Daarna ander resepte probeer – ek was so bang vir Bakstene – nou het hul aanhoudend uitmekaar geval. My Ego was platgeslaan.
Vandag s’n was perfek – ek het die aartappel i.p.v. kool gebruik.
Manlief en die 2 kinders het weer en weer geskep.
Jy het nou absoluut my vertroue gewen –
N.S. Ek en n ou Sousie kan n laaanngg pad stap.
Sommer baie dankbaar dit was een reuse sukses gewees en mag jou gesin nog baie kos eet uit die Boerekos met ‘n Twist kombuis. Groete Annelien