‘n Fantastiese heerlike bros happie met die sagte kern van amandel gevul. Dekadent en pragtig op die kooptoe ook! Geniet!

Vir die deeg
200 g koekmeel
5 g bakpoeier (5 ml plus ‘n knippie)
Knippie sout
150 g koue botter, in blokkies
100 g sagte bruin suiker (muscovado)

Maak die deeg
• Meng die meel, bakpoeier en sout en sif saam.
• Vryf die botterblokkies met die meel in totdat dit krummelrig is.
• Voeg die suiker by en meng vinnig tot ’n gladde deeg (moenie oorwerk nie).
• Verdeel die deeg in twee, draai elke deel toe in kleefplastiek en druk plat.
• Laat vir 1 uur in die yskas rus.

Vulsel
Hier kan jy kies tussen die twee hang af van jou smaak.

Amandelpasta
75 g geblansjeerde, ongegeurde amandels
75 g fyn suiker
Skil van ½ ongewaste suurlemoen
Klein bietjie water
1 klein eier, geklits (net voor gebruik bygevoeg)

OF

Frangipane
50 g botter
50 g suiker
1 eier
70 g fyn amandelmeel
Skil van ½ suurlemoen

Vir afronding
10 heel amandels
Eierglans (eier geklits met ’n bietjie water)

Maak die vulsel
Amandelpasta
• Maal die amandels en suiker tot ’n baie fyn poeier. (Of gebruik gekoopte amandel meel.)
• Meng met suurlemoenskil en ’n bietjie water tot ’n stewige pasta – nie te nat of droog nie.
• Bêre in die yskas (tot 2 weke) totdat jy dit gebruik.
• Net voor gebruik: werk die geklitste eier deur die pasta tot dit glad en spuitbaar is.

Frangipane
• Smelt die botter stadig en laat afkoel.
• Klits die suiker, eier en suurlemoenskil tot romerig.
• Voeg die gesmelte botter stadig by terwyl jy aanhou klits.
• Roer die amandel meel in.
• Plaas in ’n spuitsak en hou in die yskas.

3. Vorm en bak die Amsterdammertjies
• Verhit die oond tot 175°C.
• Voer ’n bakplaat met bakpapier uit en plaas bak ringe daarop.
• Rol die eerste porsie deeg uit tot 4 mm dik. Sny 10 rondtes (7 cm) uit.
• Plaas die deeg in die ringe. Rol die tweede porsie deeg uit en sny nog 10 rondtes vir bo-op.
• Spuit ’n bolletjie vulsel op elke bodem (vir kano’s spuit ’n dik streep).
• Plaas die boonste deeg rondtes bo-op en druk die kante liggies vas.
• Smeer met eierglans, plaas ’n amandel in die middel, druk liggies vas en smeer weer met eierglans.
• Bak vir 20 minute tot goudbruin.
• Haal uit die oond en verwyder dadelik die ringe (gebruik ’n kombuisdoek).
• Laat 5 minute op die bakplaat afkoel en plaas dan op ’n afkoelrak.

Indien jy nie bakringe het nie, gebruik ’n kleefvrye muffinpan.

Bron: www.annelienpienaar.co.za deur Annelien Pienaar 2025