‘n Baie eenvoudige drankie om te maak en as mens ‘n vergelyking moet tref dan is dit die boetie van Gemmerbier maar net gemaak met Gemmer! Die Fermentasie tyd is vir my persoonlik korter as vir Gemmerbier maar onthou, klimaat speel ‘n groot rol asook lugdruk.
Hoe werk dit?
Basies word ‘n hoë dosis suiker met suurlemoensap en skille gekook, dan afgekoel, dreineer en met brouersgis gemeng en gebottel. Saam in die bottel word daar dan so paar rosyntjies geplaas om die dryf toets te doen. Die bottel word vir ‘n dag buite laat staan met die proppe liggies op, nie toe. Daarna word dit in die yskas gestoor totdat die rosyne dryf, dan weet jy hierdie drankie is gereed. Onthou egter dit is ‘n fermentasie proses dus word daar ook alkohol gevorm hoe langer dit staan en ook, dit bruis heerlik.
Wenk: Ek gebruik ook bessies waarvan ek die sap onttrek om hierdie drankie te maak veral Framboos is HEERLIK! Jy kan ook helfte van die suurlemoen met lemoen vervang! Dit maak ook vir n heerlike kombinasie. Selfs naartjies is heerlik. Niks keer jou om so bietjie gemeer, ster anys of selfs kardamom by te voeg, borrie wortel…heerlike gesonde konkoksies.
Ons het met hierdie drankie groot geword en tot vandag maak ons ‘n weergawe daarvan. Ons het dit geken as Suurlemoen wyn. Ek hoop hierdie gaan vir jou ‘n heerlike drankie word op die Feestyd tafels en spesiale geleenthede.
270 g wit suiker
270 g treacle suiker of gewone bruin suiker
3 groot suurlemoene, groot as jy jou hand toemaak moet dit amper groter as ‘n tennisbal wees.
3 suurlemoene se sap
2 liter kokende ketel warm water
¼ t brouersgis (in die winkel bekend as Brewers yeast en is langs die gewone pakkies kitsgis!)
Handjie vol rosyne (enige iets wat soos n rosyn lyk!)
Was die suurlemoene eers goed af as dit nie organies is.
Skil die suurlemoene dun en behou die skille. Sny die suurlemoene in die helfte en druk die sap so goed moontlik uit.
Plaas die suurlemoensap, water, suikers in ‘n diep mengbak wat 2 liter se vog kan hou. Giet die kookwater oor en bedek met kleefplastiek die bak. Laat die bak dan afkoel tot kamertemperatuur. Skep die suurlemoen skille uit.
Voeg die gis by en los vir 5 minute sodat die gis kan oplos. Roer goed deur en giet in glas bottels met proppe wat vas trek asb! Moenie die deksels toemaak nie, liggies op en gooi dan ‘n net oor. Laat vir 48 uur fermenteer.
Maak dan die deksels dig toe en staan vir 7 dae in die yskas totdat die rosyne begin dryf. As dit vroeer gebeur, dan is jy gelukkig.
Stoor hierdie drankie vir tot 6 maande in die yskas. Onthou die alkohol verhoog hoe langer die produk staan en dit word suurder.
Geniet!
Bron: www.annelienpienaar.co.za 1998
Lewer: 2.3 liter se sap