Wanneer die huis leeg is en jy het lus vir iets soet, maar nie lus vir mengers, panne en baie skottelgoed dan kan jy alles met die hand berei en net ‘n paar uurtjies wag voordat jy behaaglik kan terug sit en geniet!

1 ½ k fyn romany cream krummels
1/3 botter gesmelt
480 g roomkaas, glad gemeng
1 k versiersuiker
1/2 k kakao poeier
1 t vanilla geursel
1 ½ k room
1 k donker bakkers sjokolade gesmelt, hou eenkant
1 k wit bakkers sjokolade gesmelt, hou eenkant
1/4 k flake sjokolade in stukkies gebreek, enige ander sjokolade sal werk, rasper dan net
1 k fyn klapper
1 k pekans, gekap
1/4 k kondensmelk
1/4 k karamel kondensmelk

Berei ‘n losboom pan voor met kleef plastiek in die onder laag. ‘n 20 cm pan is voldoende. Of ek sit reeds die koek basis vir koek versiering onder in die pan se basis. Sodoende kan jy net die pan los maak en die finale koek van die pan se basis af gly en direk op ‘n koekbord mooi rangskik.

Meng die koekie krummels met die gesmelte botter en druk dit dan styf vas in n losboom pan. Plaas die basis in die yskas vir ‘n uur om te set.

In ‘n groot meng bak klits die roomkaas tot glad, voeg dan die versiersuiker en vanielje geursel by en meng tot super glad en romerig.

Verdeel die mengsel in twee bakkies ewe veel. In die een bakkie voeg jy die gesifte kakao en meng goed deur.

Klop die room styf in ‘n aparte bakkie. Verdeel die room tussen die twee bakkies. Vou dan die room liggies in.

Bakkie nommer 1 gaan ‘n donker kleur wees. Hierby voeg jy die gesmelte sjokolade en vou weer mooi in. Skep die beslag dan in die verkoelde pan en maak glad.

Bakkie nommer 2 gaan lig van kleur wees. Voeg daarby die gesmelte sjokolade, flake sjokolade, pekans en klapper, vou liggies in en skep dan liggies bo-op die donker laag. Maak gelyk en verkoel vir 6 ure of verkieslik oornag.

Berei die karamel sousie: smelt die karamel kondensmelk en kondensmelk saam in die mikrogolf en meng tot super glad. Laat afkoel.

Haal die koek uit die yskas en ontvorm. Skep dan van die sous oor en versier met ekstra neute, nog koekie krummels en klapper skyfies.

Wenk: As die koek nie wil los kom, vries dit vir ‘n uur en maak dan ‘n handdoekie nat met warm kraan water en plaas die pan daarom en vou die kante toe vir ‘n minuut. Die koek sal maklik los kom.

Bron: www.annelienpienaar.co.za deur Annelien Pienaar 2024