Heerlik en vir ons as neute boere is dit altyd lekker as mens se produk gebruik kan word op ‘n verskeidenheid maniere. Ek het by n vriendin direk Amandels gekoop en dit was so vars! Die resep was geoormerk om met pekans gemaak te word, maar toe sien ek die mooi Amandels en die koeel is deur die kerk. Wat probeer ek sê? Jy kan enige neut waarvoor jy lief is so gebruik en wel, dit amper ‘n brittle van dit maak met die karamel laag bo-op!

Basis resep
1.4 kg Koekmeel
100 g Semels of oat bran
5 ml Sout
10 ml Kremetart
4 t Bakpoeier
2 t Koeksoda
500 g Botter of bakkers margarien
400 g Heuning
500 ml Karringmelk
2 Eier – geklits
200 g geroosterde heel amandels of neute van keuse

Vir bolaag op beskuit
100 g amandel gevlok
100 ml heuning
50 ml heuning ekstra om na die tyd oor te verf.

Meng die amandel en heuning saam, verhit vir 1 min in mikrogolf en gebruik dadelik as die 35 min merk bereik word. Jy gaan sukkel om die mengsel koud oor die beskuit te smeer en jy mag dalk die beskuit ‘n gat in druk. So warm is beter.

Voor verhit oond na 170C. Berei ‘n 35 cm x 45 cm beskuit pan voor. Sif al die droë bestanddele saam.

Smelt die botter en heuning saam, laat afkoel tot kamer temperatuur en voeg die eier en karringmelk by.

Meng die nat en droë bestanddele saam, moenie knie nie, druk net aan mekaar, jy wil nie gluten ontwikkel nie.

Druk die beslag in die voorbereide pan en sny dan vooraf in vingers.

Bak die beskuit vir 35 minute en haal vinnig uit die oond.

Meng die amandels en heuning en smeer oor die beskuit baie liggies. Sit die beskuit terug in die oond en bak verder vir nog 10 minute.

Sodra die beskuit gaar is, haal uit en smeer weer met heuning maar los die pan in die oond om so af te koel.

Laat die beskuit goed afkoel, sny in vingers en droog dan soos benodig. Hou die res van die beskuit wat jy nie nou tyd voor het om te droog, in ‘n lugdigte houer en vries en droog op aanvraag.

Droog vir 5 – 6 ure by 90C-100C in elektriese oond. Indien die oond ‘n waaier funksie het is dit nie nodig om die deur oop te hou met ‘n lepel vir vog om te ontsnap. Die sisteem doen dit sommer self. Andersins vir konvensionele oonde moet die deur oopgehou word.

Droog in Gas oond met deur oop, panne HEEL boonste rakkie, plaas drup rakkie ook heel onder in oond om die hitte te breek. Dit is ook hoe jy die temperatuur van die oond die laagste kan kry. Gewone gas oonde kan nie koeler as 120C gaan maar met hierdie tegniek sal die beskuit wel goed droog en GEEN gas smaak hê. Dit is ‘n vraag wat ek nogal baie kry oor gas bakkery en droging.

Mag jy hierdie resep sommer baie geniet.

Hier is die voedings inligting vir die resep, per 100 g beskuit:

Energie waarde: 1506 kJ
Proteïen 7.3 g
Vet 17.3 g
Versadigde Vet 8.2 g
Koolhidrate 45.1 g
Suikers 11.3 g
Vesel 3.0 g
Sout 0.34 g

Hierdie waardes kan as basis gebruik word vir die etikettering van jou beskuit.

Bron: www.annelienpienaar.co.za deur Annelien Pienaar 2024
Hoeveelheid: 2 kg se gedroogde beskuit ongeveer.