‘n Heerlike Griekse koekie wat tydens Paastyd bedien word. Die koekie kan getwist word soos ‘n koeksister, gevleg word, in ‘n sirkel met ‘n gaatjie soos ‘n bagel gevorm word of ‘n lang stokkie. Die deeg is heerlik soet en ryk. Soms is ek bietjie anders en sit gekapte pekans by van so 1 k en dan Speculaas kruie…dit is my Boere Twist op ‘n Heerlike Griekse koekie.

250 g (1 k) botter, gesmelt
4 groot eiers
1 lemoen se zest
60 ml (4 e) lemoensap
15 ml (1 e) vanilla
15 ml (1 e) brandewyn
200 g (1 k) witsuiker
630 g (4 ½ k) koekmeel
15 ml (1 e) bakpoeier
2.5 ml (1/2 t koeksoda)
1 eier wit plus 3 e melk en knippie sout vir die glans laag voordat die deeg gebak word.

Meng die gesmelte botter met eiers, lemoen zest, lemoensap, vanilla en brandewyn.

Voeg die witsuiker by en klits goed deur sodat die suiker eweredig versprei is.

Sif die koekmeel, bakpoeier en koeksoda saam en maak ‘n holte in die meel. Voeg die eier en botter mengsel by en knie aan mekaar.

Rus die deeg vir 20 minute en berei die bakplate voor.

Deel die deeg in 30 g bolletjies en hou bedek te alle tye om uitdroog te voorkom.

Rol elke bolletjie in ‘n lang vorm soos ‘n toutjie van ongeveer 10 cm. Draai die degie soos vir ‘n koeksister deur die deeg in die helfte te vou en dan die beentjies twee maal oor mekaar te vou en druk die punte liggies vas waar dit op die punt kruis. Smeer die vlegsels met die eierwit en melk mengsel.

Bak by 180 C vir 25 minute en bedien met teetyd.

Bron: www.annelienpienaar.co.za
Hoeveelheid: ongeveer 30-40