Heuningkoek is sommer ‘n heerlike en groot bederf vir jou gaste en kan dae voor die tyd berei word. Die koek is egter aan die duur kant weens die gebruik van EGTE heuning vir die smaak en uniekheid van die gebak. Dit is die kenteken. Bloekom heuning in SA is die naaste aan die Elder flower se geur en dit is die tipe heuning wat kenmerkend gebruik word.

Hierdie resep is ‘n weergawe wat ek van my moeder jare gelede ontvang het en ons het maar so ons eie kinkels deur die jare bygevoeg.

Reduksie en skroei van heuning
260 g suiwer heuning
45 ml water

Wenk: wanneer jy ooit stroperige goed moet afmeet, meet direk in die houer af waarin jy gaan werk, so mors jy minder met die bestanddeel as jy dit weer moet uit krap vir gebruik.

Plaas kastrol op ‘n skaaltjie en weeg die heuning af. Plaas die kastrol op die stoof en verhit oor matige hitte en roer liggies tot gesmelt en vloeibaar. Oor matige hitte kook vir 8 minute totdat die heuning begin skroei en jy die karmel geure begin optel. Verwyder dadelik van die hitte en hou eenkant. Onthou dat die heuning ook minder gaan word weens die vog wat verdamp het. Jy sal merk daar is ‘n tweede hoeveelheid heuning by die koekbeslag, dit is korrek.

Beslag
210 g botter
200 g wit suiker
*heuning: jy moet die geskroeide heuning weeg en daarby nog heuning voeg om die mate van 350 g (1 k) te meet
6 large eiers
15 ml koeksoda
Knippie sout
5 ml fyn kaneel
525 g koekmeel, gesif

Voorverhit oond na 180C en kry bakplate en Teflon velle gereed. Anders smeer met OLIE bakkerspapier. Jy het ‘n 25cm grootte sirkel pan nodig. Jy kan kleiner of groter gaan, jou keuse. Oortollige korse kan bevries word vir later. Hoe maak jy op ‘n papier wat geolie is ‘n sirkel? Plaas ‘n sirkel pan of bord of ‘n ander stuk papier met jou mate op die bak oppverlak en sprinkel met tee siffie bietjie meel om die rand te merk.

In die kastrol van die heuning voeg die botter, suiker en die volle mate heuning en verhit liggies sodat die botter en suiker kan smelt. NB dit mag NIE kook nie. Die suiker moet net oplos. As jy jou vinger in die mengsel steek moet jou vinger nie brand nie. Ons kyk na so 55 C.

Sodra die mengsel egalig is en nie te warm klits die eiers by een vir een met ‘n draad klitser. Sif die res van die droeë bestanddele saam. Voeg dan die meel mengsel in drie sarsies by die eiermengsel en meng goed met ‘n houtlepel. Jy kan ‘n menger vir die doel inspan. Gebruik die K lem vir staanmengers.

Meet dan op silikoon of Teflon velle 25 cm sirkels af. Skep ¾ koppies vol beslag op die sirkel en met ‘n offset spatula (‘n spaan met ‘n kinkel in sy nekkie) en smeer die beslag egalig oor die sirkel. Jy gaan so aanhou en bak totdat al die beslag klaar gebak het.

Al die korse gaan NIE op een slag in die oond pas nie, so jy gaan bak totdat jy klaar is. Korse bak by 180C vir 7-8 minute totdat die korse mooi bruin is maar nie te donker.

Sodra die warm kors uit kom, sit die volgende dadelik in een beweging in, sodoende koel die oond nie te gou af. Neem jou vorm wat jy gebruik het en sny dan die kors terwyl dit warm is perfek rond deur ‘n klein groente messie of pizza snyer te gebruik. Neem die afval stukkies en sprei dit in ‘n pan. Hierdie stukke moet gedroog word en later as versiering op die koek gebruik word. Dus gaan niks van hierdie resep verlore.

Al die lae moet goed afgekoel wees voordat die koek aanmekaar gesit word. Ek verkies om die lae te vries so stol die vulsel ook dadelik en die lae gly nie van mekaar! Glo my ek het al gehuil oor my ongeduld. Vries maar daai ou lagies.

Terwyl die proses by tye op ys is, droog die stukkies van die koek by laagste wat jou oond kan gaan soos vir beskuit. Dit sal nie langer as 3 ure wees teen 70 C tot 90 C.

Versiersel
600 ml suurroom
200 g roomkaas
1/2 kondensmelk
1/4 k heuning, lou warm en geskroei
1 t gelatien opgelos in 4 e kook water
1t vanilla
3 e suurlemoensap

Meng die gesemelte gelatien by die warm heuning en roer goed deur. Verroom die roomkaas vir 5 minute tot glad en voeg dan die suurroom by en klits tot glad.  Voeg die gelatien-heuning, kondensmelk, vanilla en suurlemoensap by en klits tot dik vir 3 minute. Set eers vir ‘n uur in die yskas voordat jy die lae aanmekaar sit.

WErk direk op ‘n mooi opdienings bord sodoende nie die koek te moet skuif. Hierdie is amper soos n Jodetert met ‘n kinkel. Ad die korse eers sag is, kan jy dit nie skuif al is dit op ‘n koek basis, dit sal kraak.

Plak die onderte laag vas met bietjie van die vulsel. Plaas die res van die vulsel in ‘n spuitsak (nie ‘n moet, maak net makliker om die vulse eweredig te versprei. Pak die lae uit (ek werk op 8 lae) spuit elke laag vooraf met die vulsel, smeer gelyk op ‘n draai tafel en pak dan op mekaar. Verkoel hierdie koek tot baie koud voordat jy die kante aanpak.

Neem die oorblywende vulsel en smeer dan oor die verkoelde koek.

Plaas die koek krummels in ‘n sakkie en maak fyn deur met ‘n koekroller daaroor te rol. Sprinkel oor die koek en druk teen die kante vas. Dit is hoe die oorspronklike koeke gedoen is…vir my versier ek nie die kante nie want die lagies is mooi en doen dan eerder ‘n dun laag met die versiersel soos vir ‘n naked cake voorkoms.

Onthou die koek moet 12 ure rus sodat die koek lae kan sag word.

Wenk: Dink uit die boks en maak ‘n reghoekige koek of langwerpige vingers…of druk klein vormpies uit en stapel dit op mekaar. Die opsies is LEGIO.

Mag julle hierdie resep sommer baie geniet! Dit is ‘n spesiale resep tussen ons Bezuidenhout kinders.

Bron: www.annelienpienaar.co.za 2022 deur Annelien Pienaar
Hoeveelheid: 8 laag x 25 cm koek.