Wat is ‘n Sacher torte? Dit is ‘n heerlike Sjokolade koek gebak met minder koekmeel (jy kan ook my glutenvrye meel gebruik) met amandelmeel en dan daarby egte couverture sjokolade. Jy kan speel met ekstra donker of ligter melk sjokolade. Tradisioneel is donker sjokolade gebruik. Die koek word SONDER bakpoeier of koeksoda gebak en daarom is dit baie belangrik om die meng prosesse perfek te doen om maksimum lug in die mengsel vas te vang. Botter MOET sag en romerig by kamertemperatuur wees. Hierdie koek is dus dig in tekstuur en nie lig en donsig soos ‘n spons koek nie. Appelkoos konfyt is sinoniem met Sacher torte en verkieslik nie vervang met ‘n ganache tussen die lae nie, want dan is dit nie meer ‘n Sacher torte nie.

Die oorsprong van hierdie koek is Oostenryks en die Chef wat die resep ontwikkel het is Franz Sacher rondom die 1832’s vir Prins Metternich in Wene.

Koek basis
115 g botter, kamertemperatuur (GEEN ander iets as BOTTER)
45 g (2 e) versiersuiker
5 ml (1 t) vanielje geursel
Knippie sout
4 eiergele, kamertemperatuur
100 g donker sjokolade gesmelt
4 eierwitte met ‘n knippie kremetart, kamertemperatuur (onthou geen kontak met plastiek en ook geen eiergeel in die witte of dit sal nie styf klits. Plastiek verhoed eierwitte om styf te klits.)
100 g wit suiker
75 g koekmeel
30 g amandel meel
200 g gladde appelkooskonfyt, dood eenvoudige goedkoop loperige appelkooskonfyt asb, tuisgemaak het stukkies in, tensy jy die appelkooskonfyt in sy smelt fase deur ‘n sif wil giet.

Voor verhit oond na 165 C.

Smeer een pan met die mates 18-20 cm met BKT se Pansmeer in die boek. Hou eenkant.

Verroom die botter en versiersuiker tot lig en donsig. Voeg dan twee eiergele by en klits weer tot romerig en volg met die laaste twee eiergele.

Voeg die vanielje en sout by en klits goed deur.

Daarna vou die gesmelte sjokolade by.

Klits die eierwitte tot sagte punt stadium. Vou die helfte van die eierwit by die sjokolade mengsel in, herhaal. Op hierdie stadium het jy ‘n heerlike mousse! Hou verby en voltooi die beslag.

Sif eers die koemeel en amandel meel saam. Sif dan by die sjokolade beslag en vou in.

Skep die beslag in die gesmeerde pan. Met ‘n off-set spatula maak die koek gelyk bo-op dan het jy nie nodig om gelyk te sny na die tyd. Indien jy nie Pansmeer het MOET jy bakkerspapier in die bodem en kante vas plak met bietjie botter en kos kleef verende sproei spuit sodat die koek perfek kan los kom.

Bak vir 35-40 minute totdat die toetspen skoon uit kom. Onthou toets altyd in die middel van die koek.

Sodra die koek uit die oond kom, keer uit en laat goed afkoel.

Sny die koek in die helte deur. Verhit die Appelkooskonfyt en plak die lae van die koek aan mekaar. Jy kan as jy merk dat die koek droog vertoon as jy dit deur sny, eers met die stroop benat en dan die konfyt deel doen. Smee rook die buitekant van die koek sodat die hele koek blink vertoon. Verkoel die koek dan en bedek dit vir latere afronding vir 4 ure in yskas.

Glans laag
150 g egte donker sjokolade couverture soos Callebaut of Lindt bakkers tipe anders werk die glaze nie. Nibs of plakke op gekap
150 g (1/2 k plus 2 e) room
10 g (2 t) botter

Neem die room en verhit dit tot onder kook punt in ‘n glas mengbak. Giet dit oor die sjokolade stukkies en roer tot glad. Sou die mengsel nie lekker smelt, smelt dan vir 20 sekondes in die mikrogolf en roer tot glad. Meng die botter by en roer weer tot glad.

Die perfekte gietbare sjokolade vir die afronding van die koek is 40-45 C. So as jy kan meet, meet met ‘n termometer.

Verwyder koek uit yskas en giet die sjokolade laag oor deur die koek op n Kleiner koek bordjie te plaas en dan direk oor n draadrakkie binne in n oondpan om die ekstra sjokolade op te vang.

Ek begin altyd giet aan die buite rand en werk met ‘n spiraal na binne en dan weer met die spiraal na die kante. So kry jy ‘n eweredige verspreiding van die sjokoldae. Die reel werk ook goed vir Mirror glazes. Skud die pan liggies met die koek op sodat die sjokolade glad kan gaan.

MOENIE die sjokolade met ‘n spaan probeer glad trek…as jy reg giet gaan dit nie nodig wees. Sou dit grof lyk, gebruik ‘n gas vlam en gaan liggies oor die sjokolade om dit sag te maak, soos in blitsig net raak en dan vlam weg. Die sjokolade sal ook weer blink word as jy dalk met die palletmes te veel gekarring het.

Hou koek verkoel in ‘n koekblik. Teen die tyd wat die koek gebruik gaan word, haal die koek ‘n uur voor die tyd uit die yskas maar MOENIE, MOENIE die koek oop maak. Dit sal water druppels maak en die koek sleg laat lyk. Dus moet die koek eers in die toe blik klimatiseer. Veral areas met baie hoë humiditeit.

Stroop (opsioneel)
50g ( 3 e plus 1 t) water
35 g (3 e) witsuiker
5 ml rum geursel

 

Bron: www.annelienpienaar.co.za aangepas deur Annelien Pienaar vir SA omstandighede 1996

Hoeveelheid: 1 laag koek wat in 2-4 lae gesny kan word.