Veerlig, klam, sag en geurig…hierdie resep kan met gemak vir die koek verdubbel word. Die vulsel deel is genoeg om een of twee lae koek te bedek. Laat die koek eers vir n dag staan sodat al die geure kan ontwikkel. Dit is regtig die wag werd. Dit is belangrik dat jy hierdie resep eers sorgvuldig deur lees en self smaak profiele uitwerk.
Koek basis
30 ml (2 e) kits koffie op gelos in die kokende water en laat afkoel
15 ml (1 tbsp) kook water
50 g (1/2 k) pekan halwes of enige neut van keuse in dieselfde gewig, fyn gekap amper soos neute meel, net bietjie grower.
225 g (1 k) botter by kamertemperatuur of bakkers margarine 80% vet inhoud
220 g (1 k plus 3 e) Treacle, demarera of muscovado suiker
250 g koekmeel
7.5 ml (1. 1/2 t) bakpoeier
2 knippies sout
¼ t fyn kaneel
1 e kakao
4 XLarge eiers by kamertemperatuur
5 ml karamel geursel
Berei een 20-24 cm koekpan voor. Enige vorm sal geskik wees. Lang werpige broodjie so groot soos ‘n piesang brood sal werk of vierkantig of langwerpig ongeveer 20x20cm. Pansmeer die pan goed met die resep op p.13 in Boerekos met ‘n Twist my kookboek. Of voer die pan met bakkerspapier uit. Voorverhit oond na 170 C.
Sif die koekmeel, sout, bakpoeier en kaneel saam. Hou eenkant.
Verroom die botter en suiker tot lig en donsig vir 5 minute.
Voeg dan die eiers een vir een by en elke keer ook een groot eetlepel van die meel en elke byvoeging moet eers goed in gewerk word voordat die volgende eier en meel bygevoeg word.
Voeg dan die koffie ekstrak en klits vir 3 minute en vou dan die neute in die mengsel in.
Giet die mengsel in ‘n voorbereide pan en bak by 170 C vir 50-60 minute.
Laat die koek eers 10 minute lank afkoel voordat dit ontvorm word. Laat die koek goed afkoel. Draai in kleefplastiek toe, plaas in n lugdigte houer en verkoel oornag. Sny dan die koek in 2-4 lae na gelang van jou keuse. Vul dadelik en stapel op mekaar. Verkoel weer ‘n paar ure voordat die karamel drup gedoen word. Hou die koek verkoel en bedien vanuit die yskas moenie vir te lank by kamertemperatuur staan.
Vulsel
170 g (3/4 k) roomkaas
115 g (1/2 k) botter of 80% vetinhoud bakkers margarine
30 g (1/4 k) versiersuiker
Knippie sout
5 ml (1 t) vanielje geursel
1 e koffie poeier aangemaak met 2 e kookwater
1 e grondbone botter of enige ander neute botter, tahini werk ook lekker
½ k mini marshmellows of 4 groot wit van kleur
15 ml sonneblom olie
100 ml kondensmelk
140 ml (1/2 k plus 1 e) room
1 ½ k pekan meel (pekans wat fyn gemaal is) wenk: bevrore pekans maal makliker fyn as warm wat maklik botter word.
Room die roomkaas, botter en versiersuiker saam vir 5 minute. Gebruik die ballon klister.
Voeg dan die sout, vanilla en neute by en meng weer goed. Hou eenkant.
Plaas die malva lekkers en olie in ‘n mikrogolf veilige bakkie. Smelt vir 10 sekondes en roer tot glad en loperig. Voeg hierdie mengsel dadelik by die verroomde mengsel en klits tot lig en donsig. Voeg dan die kondensmelk by en meng vir 2 minute.
Voeg dan die room en koffie by en neem dan hier ‘n draad klister of hout lepel en meng die room in. As jy die menger sou gebruik mag dit maklik skif. 10 sekondes is genoeg met die menger. As die mengsel bymekaar kom moet jy dadelik stop.
Plaas die mengsel in ‘n versiersak sonder tippie want jy gaan dit spuit as die vulsel en nie as dekorasie. Verkoel eers vir paar ure voor gebruik.
Versiersel
2/3 k melk
5 ml caramel geursel
½ k (100 g) wit suiker
3 eiergele
1 e mielieblom
150 g roomkaas
150 g botter
2 e versiersuiker
Twee knippies sout
1 k fyn pekans, growwer as neute meel.
Plaas die melk en helfte van die suiker in ‘n kastrol en bring tot kookpunt en roer met ‘n draad klister om aanbrand te voorkom.
Klits in ‘n aparte bakkie die res van die suiker en eiergele tot lig en donsig. Voeg dan die mielieblom by en klits weer goed.
Neem van die warm melk en voeg ‘n kwart koppie by en klits goed deur. Die eiers word nou getemper en sal nie skif nie. Voeg nog ‘n kwart koppie warm melk by en klits goed. Giet dan die eiermengsel by die melk en kook totdat die mengsel verdik het en roer liggies van tyd tot tyd met draad klister om aanbrand te voorkom. Matige hitte te alle tye. Neem ongeveer 3 minute.
Giet die mengsel in n reghoekige glas bakkie uit om vinniger af te koel. Druk dadelik ‘n stukkie kleefplastiek op die vla om ‘n vel te voorkom. Verkoel vir ‘n uur.
Verroom die roomkaas, botter, veriersuiker en sout saam vir 5 minute. Voeg dan bietjies vir bietjie van die vla mengsel by hierdie mengsel en hou so aan totdat al die vla in gewerk is en die mengsel glad en eenvormig is.
Hierdie mengsel is dus gereed om die finale afronding te doen van die koek om buite en bo-op te versier.
Karamel drup
3 e room
1 ½ e koffie poeier
130 g wit bakker sjokolade (splinter soort)
Verhit die room vir 10 sekondes in die mikrogolf en voeg die koffie by en roer tot glad.
Voeg die room mengsel by die sjokolade en verhit dan vir 15 sekondes in mikrogolf en roer, hou so aan totdat die sjokolade amper glad is, maar tog nog sjokolade toon…haal uit en roer tot glad en giet dadelik oor koue koek. As die koek nie koud is, sal die caramel laag nie dadelik set as dit met ‘n lepel gegiet word.
Hoe om te giet…ek gebruik ‘n groot nagereg lepel en skep dan bietjie vir bietjie van die mengsel en giet net 5 cm stukkies op ‘n keer en herhaal. As mens te veel wil giet op ‘n keer dan is die druppels wat afloop nie mooi egalig.
Bron: www.annelienpienaar.co.za duer Annelien Pienaar 2023
Hoeveelheid: 1 enkel laag koek, maar die koekbeslag kan vermeerder word met gemak vir ‘n dubbel laag koek.