Hierdie heerlike stroperige koek is perfek vir spesiale kuiertjies en vertoon ongelooflik mooi met sy eie stropie en glansende vrugte. Ek is baie lief om vars vrugte te gebruik. Jy kan basies enige vrug waarop jy jou hande kan lê gebruik.

60 g (1/4 k) botter
100 g (1/2 k) treacle / Demarera / Muscavado bruin suiker, in gedruk
1 t kaneel
350 g (4 groot) perskes in wiggies gesny (pynappel, peer, appel, appelkoos, bessies, persimmon, pruime sal ook heerlik wees) hier kan gedreineerde geblikte vrugte stukke ook gebruik word. 410 g blik sal doen.
3 groot eiers
200 g (1 k) wit suiker
30 ml (2 e) brandewyn / rum / whisky / amarula ens (opsioneel)
5 ml (1 t) vanielje geursel
140 g (1 k) koekmeel, gesif
5 ml (1 t) bakpoeier
2 knippies sout
1/2 k gewone appelsap of sap van die geblikte vrugte

Voor verhit die oond tot 180 C. Smeer ‘n 20-25 cm pan rond met koekpan smeer uit die BKT kookboek. Hou eenkant.

Smelt die botter en plaas onder in gesmeerde pan. Sprinkel al die bruinsuiker oor die gesmelte botter en sprinkel met kaneel na smaak. Skep die gedreineerde perskes oor die bruinsuiker.Pak die vrugte stukke in die pan.

Klits die eiers met witsuiker in ‘n mengbak met ‘n elektriese menger tot lig, romerig en dik, sowat 5 minute.

Sif die koekmeel, bakpoeier en sout saam. Voeg die meelmengsel by die eier- en suikermengsel, afwisselend met die water of sap. Giet die beslag oor die perskes en maak gelyk.

Bak vir 35 minute tot geset. Toets die middel met ‘n toets pen. As die pen skoon uit kom is die koek gaar.

Laat die koek baie goed afkoel voordat dit uit gekeer word op ‘n mooi koekbord.

Bedien met slag room.

Bron: Annelien Pienaar, 2020, www.annelienpienaar.co.za
Hoeveelheid: Een groot koek.