Botter, kaneel, heuning en Pekans maak die wonderlikste van kombinasies ooit. Graag deel ek met julle iets uit my kinder-tyd. Ons boer met Pekans en dit het my terug geneem na ons ou Pekan boom op Remhoogte in Skeerpoort. Ons kon nie wag dat die Pekans ryp word. Ons het dan onder moeder se wakende oog die neute gedop en dan fyn gemaal. Die heuning word geoes uit my ma se kaste en tot vandag, jare na haar dood gebruik ek steeds die kaste wat my pa vir haar gebou het. Ek het deur die jare raampies vir die kaste vervang en steeds elke seisoen oes ek ongelooflike heuning. Vir hierdie resep gebruik die Paas bolletjie resep uit die Boerekos met ‘n Twist kookboek en vorm in ‘n brood en bak vir heerlike geurige snye Franse roosterbrood!
500 g botter, baie sag, amper lopering
1/2 k heuning
3 knippies kaneel
1 knippie gemmer
1 knippie neutmuskaat
1/4-1/2k pekans eers afgemeet en daarna word dit fyn gemaal in n smeerbare gladde neute botter
Plaas die heuning in ‘n klein diep kastrolletjie en bring tot kookpunt, kook totdat die heuning begin donker word en na karamel ruik. Laat eers effe afkoel.
Sprinkel die speserye oor die sagte botter en voeg die pekan botter by. Klop goed deur. Daarna giet die lou warm heuning by en klop weer goed met ‘n houtlepel.
Spuit die oppervlak liggies nat met water en plak n stukkie kleefplastiek daarop vas. Hierdie plastiek sal die omhulsel word van die botter rolletjie. Skraap die mengsel op die kleefplastiek en rol in ‘n netjiese worsie. Plaas op ‘n bakplaat en verkoel vir ‘n paar uur om te set.
Sny in skyfies en bedien oor die warm Franse roosterbrood of selfs wafels (Boerekos met ‘n Twist kookboek) en plaatkoekies.
Wenk: hou in ‘n bakkie as ‘n smeer!
Klasse!!!
Bron: www.annelienpienaar.co.za deur Annelien Pienaar 2023
Hoeveelheid: hang af van hoeveel bestanddele jy gebruik…ongeveer 3 k se hoeveelheid.
Haallo Annalien, ek dink daar is spelfout, by “¼-½k pekans, fyngemaal in ń botter.. . ” ??? Moet botter nie ander woord wees nie?
Beste Hermina, ek beskryf hier HOE om ‘n NEUTEbotter te maak. Peanut(butter), so ook Pecan(butter)…dui op die gladheid van die produk. Hoop ek maak sin. Groete Annelien
Hallo Annelien
Die botter vormpies is pragtig.
Verkoop jy dalk sulke vormpies?
Groete
Elsje van der Merwe
Hallo Elsje, jy kan hierdie vormpies by Take a lot bestel as sjokolade vorms. Groete Annelien
Hierdie broodjie is so lekker donker watter reseppie is dit…. xxx dkie
Elsa, die Bevrore Bruin brood resep. Groete Annelien